Title Image

Blog

Boodskap vir die week

Skriflesing: Romeine 12:1-8 & Filippense 1:9-10

Die indruk bestaan soms dat veral Christene met ‘n gereformeerde agtergrond (te) min klem lê op die ervaringskant van die wandel met God. Ongetwyfeld het die gereformeerde kerke soos hulle sedert die ortodoksie van die 17de eeu ontwikkkel het, skuld aan hierdie persepsie.

Tog is dit waar dat ‘n gereformeerde Christen nie per se minder vroom as ander Christene is nie. Onder die soberheid van baie gereformeerdes en hulle terughoudendheid om veel oor hul eie ervarings te praat, lê daar dikwels ‘n sterk toe-eiening van God se genade en die oortuiging dat met ‘n lewe van gehoorsaamheid op dié genade geantwoord moet word.

Gereformeerdes het nog altyd aan basiese oriëntasiepunte vasgehou wanneer hulle oor hul wandel voor die aangesig van God besin het. Dit sal goed wees om in ‘n tydsgewrig van onsekerheid op baie terreine van die lewe, waar mense in baie (ander) dinge sekerheid en vastigheid soek, weer hierdie oriëntasiepunte te besoek.

 

Wat is hierdie oriëntasiepunte?

Dit gaan om God

Die eer van God, die verheerliking van God, die aanbidding en lofprysing van God  – dit is die hoofsaak waarom dit in die Christelike spiritualiteit gaan. Grondliggend vir die Bybelse vroomheid is dat dit verstaan word as ‘n wandel met God, as ‘n lewe in sy teenwoordigheid. In die herinnering aan die wyse waarop Abraham en die aartsvaders met God gewandel het, wil die Christen ook sy lewe voor die aangesig van God lewe. Dit beteken dat die hele lewe tot ‘n erediens word.

 

Die plek van die Woord

God kom deur sy Woord en Gees tot die mens. Deur die Woord praat God met die mens. Meditasie in ‘n Protestantse sin is nadenke oor die Skrif, oopgaan vir die Skrif en nabid van die Skrif.

 

Die funksie van die geloof

Die geloof is tegelyk gawe en opgawe. Geloof is die rus in God se genade (gawe) en die opstaan in gehoorsaamheid op God se bevel. Die lewe uit die genade hef nie ons verantwoordelikheid op nie. Die genade bevry tot gehoorsaamheid.

 

 ‘n Lewe van heiligmaking

Heiligmaking is die doel waarop die verlossing afstuur. Ons regverdiging geskied met die oog daarop dat ons heilig en onberispelik voor Hom in liefde moet lewe (Ef 1:2-4). Ware dissipelskap, die navolging van Christus en vervulling met die Heilig Gees het alles hiermee te make.  Romeine 12:2 noem dit die metamorfose wat ons ondergaan: “…maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.” Heilgmaking is ‘n lewe van gehoorsaamheid. Die oopstelling van die hart en gedagtes vir die Heilige Gees lei tot ‘n groter sensitiwiteit vir die wil van God. (Fil 1:9-10)

 

Integrale vroomheid

Bybelse vroomheid het ‘n integrale karakter wat nie net die persoonlike toewyding aan God nie, maar ook die stryd teen onreg in die wêreld omvat. Vroomheid is nie net ‘n saak van die innerlike en die binnekamer nie. Die openbare lewe mag nie aan die spel van die kragte daarbuite oorgelaat word nie.

Daar is ‘n rykheid en volheid in ons wandel met God, nie net in die persoonlike lewe nie, maar ook in die gemeentelike en openbare lewe. Alleen so kan die gemeente in die vreugde van die heil wandel, en die lewe in sy totaliteit aan die diens van God wy.

 

Sorry, the comment form is closed at this time.