Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

Lewegewend!  Esegiël 47:1-12 & Johannes 4:1-42

Esegiël vertel beeldryk dat daar van God se troon af ’n stroom water loop wat lewegewend is. Die water syfer vanuit die troon van God en dit word dieper en dieper. Die water genees alles, gee vrug en gee standhoudende lewe. Dit is vol voedsel en buitengewoon lewegewend vir enigeen wat honger en dors is. Mense wat na aan God leef se lewe raak soos syferwater wat aansluit by ander se syferwater en dit word ’n magtige stroom waarby alles wat bestaan baat.

In Johannes 4 praat Jesus van dieselfde water. As jy daarvan drink, verander alles vir altyd. Jesus tree in ’n verhouding met ’n Samaritaanse vrou. Hy gaan by haar en haar mense aan huis en Hy laat haar in die verhouding met Hom drink van die wonderwater. Die verhouding met haar is die tregter waardeur die lewe na haar vloei. Dan verander alles vir haar en haar mense.

‘n Mens se lewe kan lewegewend wees. Dit kan natuurlik ook lewenemend wees. Lewenemende mense maak ander moeg. Hulle breek af. Hulle maak seer. Hulle praat kwaad en skaad ander se beeld. Hulle verneuk en buit uit. Hulle pleeg onreg en loop sinies bo-oor vernederdes. Ander se nood raak hulle nie en hulle neem sonder om gelykwaardig terug te gee. Hulle diens gaan hoofsaaklik om hulleself, hulle aansien en gemak, hulle voordeel.

Lewegewende mense daarenteen is soos waterdruppels wat in droogtes hoop bring. Hulle tree in verhoudings waarin mense hulle omgee beleef. Hulle raak ander diepgaande met hulle egte deernis. Hulle gee sonder om terug te verwag, hulle dien sonder om eer te ontvang. Hulle verhoog verworpenes se menswaardigheid met hulle respek, geduld, belangstelling en sorg. Hulle lag baie, want hulle gedagtes is vol hoop en verwagtinge. Hulle seil onder die vaandel van die liefde. Hulle is betroubaar en verras telkens met die volume van hulle genade.

Hoe lewegewend is jou verhoudings? Is daar ’n verhouding waaraan jy kan dink waarin jy is of was waar jou teenwoordigheid ’n lewegewende verskil gemaak het?  Is jou lewe soos syferwater uit die troon van God?

 

Sorry, the comment form is closed at this time.