Boodskap vir die Week
Skriflesing: Psalm 72
Psalm 72 is ‘n koningspsalm. Die koning, nie soseer ‘n spesifieke koning nie, word as die ideale koning voorgehou,
Die koning word in die Psalm beskryf as die konkrete stadbouer van God wat hier en nou in sy heerskappy aan die eise van God reg moet laat geskied. Sy optrede moet gekenmerk word deur die handhawing van reg en geregtigheid. Calvyn sê tereg dat dit in Psalm 72 gaan om “’n voorbeeld van die koninkryk van Christus”.
Naas die konkreet historiese heerskappy van die koning is daar ook ‘n profetiese vooruitskoue. Daar is by die bidder die verwagting en verlange dat daar in die toekoms ‘n nuwe heilsbedeling sal
aanbreek wanneer die grote Koning van Israel God se heerskappy sal vestig. Profeties word vooruit gekyk na die heerskappy van God wat op aarde, in die volk van God, maar ook in die volkere van die wêreld in en deur die Koning vervulling sal vind.
Daar is met die troonbestyging van ‘n nuwe koning ‘n nuwe era van heil verwag. Die omvattende vrede (shalom) en reg vir die volk (3) moet herstel / gevestig word.
Vandag, by die tweede Advent, dink ons na oor vrede. Die grote Koning van Israel het gekom. Hy het die troon bestyg. Hy is die Vredevors.
Hy heers met die soort vrede wat omvattende welsyn, totale
harmonie en heelheid moontlik maak. Ons as sy Koningskinders is draers hiervan. Waar, en met wie gaan ons dit deel?
Sorry, the comment form is closed at this time.