Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

Die Here is naby! (vers 5). Lees ‘n mens hierdie vers, kom die vraag na vore oor verskillende betekenisse wat dit mag hê.

Sommige verklaarders reken dat dit dui op die eerste koms van Jesus, op sy geboorte in ‘n stal in Betlehem, as Immanuel.

Ander meen weer dat dit dui op die sorgende teenwoordigheid van God by sy kerk in die geskiedenis, op weg na die einde. Jesus het tog gesê: “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matt 28:20).

Ander dink weer dat die betekenis daarvan gesoek moet word in die tweede koms van Jesus, in sy wederkoms.

Tog is dit meer waarskynlik dat ál hierdie waarhede hier bedoel word. In die Bybel is daar nie altyd so ‘n skerp onderskeid tussen die eerste en tweede koms van Jesus nie. Dit vorm deel van die één, groot koms van God, van die dag van die Here wat begin met die geboorte in Betlehem, voortgesit word in die geskiedenis en afgesluit word met die finale triomf van die wederkoms.

Feit is, die kerk leef in die nabyheid van dié Here, in die geskiedenis, tussen sy eerste en tweede koms.

Maar hoe moet die kerk dan leef? Paulus gee die volgende riglyne:

 

  • Blydskap: “Verbly julle altyd in die Here! Ek herhaal: wees bly!” (vers 4).
  • Vriendelikheid: “Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word.” (vers 5)
  • Onbesorgdheid en Dankbaarheid: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. (vers 6, 1983 vertaling)
  • Vrede: En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.

Kom ons meet onsself aan hierdie vyf woorde. Sou iemand, as hy/sy in hierdie tyd van Advent na jou kyk, iets hiervan bespeur? Sou hy/sy iets van die nabye Here in jou lewe bemerk?

 

Sorry, the comment form is closed at this time.