Boodskap vir die week
Roetemerker-diens:
“Die lewe is ‘n reis saam met God” (Josua 3 en 4)
Kan jy dink aan ‘n tyd toe jy angstig of bang, selfs vreesbevange of verpletterd gevoel het?
Dikwels, wanneer ‘n mens terugdink aan sulke ervarings raak die herinnering daaraan ‘n mens steeds diep en is die emosies wat dit weer na vore bring iets wat jou weer vir ‘n oomblik tot stilstand bring.
Dit is egter ook goed om te probeer raaksien hoedat God juis in daardie tyd by jou teenwoordig was – hoe dinge uiteindelik uitgedraai het of hoe Hy jou deur daardie moeilike tyd gehelp het. Dalk het Hy selfs ‘n groot wonder laat gebeur – het daar bomenslike uitkoms gekom wat jou verstom gelaat het.
Hoe dit ookal sy, dit is goed om elke nou en dan terug te kyk op ‘n mens se lewe en God se vingerafdrukke raak te sien in dit wat agter jou lê.
Sulke oomblikke moet wees soos roetemerkers waar mens stop en vir ‘n oomblik vertoef…, terugkyk…, reflekteer…, op een of ander tasbare manier jou gewaarwording in jou gemoed en geheue vasknoop…, en dan met hoop verder die toekoms inloop.
Ons wil graag komende Sondag juis dit doen. As geloofsfamilie wil ons, aan die hand van Joshua 3 en 4 se verhaal, terugkyk op dit wat agter ons lê, dit vasmaak met ‘n roetemerker wat ons kan help navigeer om ons lewensreis weer met hoop en moed verder aan te pak.
Ons vier ook belangrike geloofsroetemerkers saam met ons Gr.R-, Gr.6-, en Gr.10-kinders en jongmense en hul gesinne. Elk van hierdie groepe beweeg volgende jaar aan na die volgende fase van hul geloofsvorming (Jakker, Jonk en Jeug) en ‘n klipstapel rondom die doopvont herinner hulle dat God ook op hulle lewens ‘n greep het, soos wat Hy getrou was om Israel deur die Jordaanrivier tot in die Beloofde Land te lei. Kom vier dit asseblief saam met ons.
Sorry, the comment form is closed at this time.