Title Image

Boodskap vir die Week

Boodskap vir die Week

Waarmee is God besig in jou lewe

Johannes 14:15-27

Die meeste van ons glo dat God by ons is? Daar is egter ook mense wat glo daar is ’n God, maar Hy is iewers ver en ons weet nie eintlik veel van Hom nie. Die Bybel leer ons egter dat God in ons lewe teenwoordig is. Sy Gees is immers uitgestort om sy teenwoordigheid in ons ’n voldonge feit te maak.

Maar dit beteken nog nie dat ons nie dikwels heimlik dink dat God maar eintlik ’n passiewe teenwoordigheid in ons lewe het nie. Hy is hier, maar ek weet nie eintlik wat Hy doen nie. Die Bybel leer ons egter dat God nie net teenwoordig is in ons lewe nie, maar dat Hy aktief werksaam is in ons lewe. “He is up to something.” Miskien dink ons God het net ’n langplan. Ons kan nie altyd sy langplan sien of verstaan nie. Daarom hoef ons nie eintlik bekommerd te wees oor waarmee Hy nou besig is nie. Solank Hy net sy langplan in my voltrek. Daarvan weet Hy die uitkoms en die redes en waar ek inpas in sy groot legkaart. Ek is daarme tevrede.

Maar die Bybel praat anders. Jesus sê in Johannes 14 “Die Parakleet, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alles onderrig en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het.” Die Gees gaan ons inlig en leer. Die Here gaan Homself aan ons bekend maak, sê Jesus in Johannes 14. Dan moet ons mos meer as die langplan weet. Dan móét ons mos insig hê in dit waarmee Hy tans in ons lewe besig is.

So, waarmee is die Here nou besig in jou lewe? Het jy ooit ’n antwoord, of sê jy maar net altyd jy weet nie.

 

Sorry, the comment form is closed at this time.