Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

“Close but no cigar.” – Markus 12:28-34

Die oorsprong van idioom “Close but no cigar” is nogals interessant en die Afrikaanse ekwivalent (Amper is nognie stamper) se etimologie is ewe belangwekkend – amper vermaaklik.

Maar wanneer mens die woorde van Jesus aan die fariseër in Markus 12:34 (“Jy is nie ver van die koninkryk van God nie.”) lees teen die agtergrond van die betekenis van hierdie twee idiome, raak dit ‘n meer ernstige saak.

Jesus se strydgesprekke met en antwoorde op strikvrae van godsdienstige leiers in die laaste week voor Sy kruisiging op Goeie Vrydag, kulmineer op die Dinsdag in ‘n vraag oor die belangrikste gebod. Jesus se antwoord verras, maar net so ook verras die reaksie van die fariseer wat die vraag gestel het.

In plaas daarvan dat Jesus een gebod as die belangrikste uitlig, kombineer Hy twee, en stel hulle gelyk aan mekaar. As mens in gedagte hou dat die fariseers waarskynlik baie tevrede sou wees met net die gebod oor liefde vir God (Deut. 6:4-5) soos wat dit uitdrukking kry in die tempeldiens en onderhouding van godsdienstige rituele, is dit veelseggend dat Jesus juis die tweede deel van die gebod bylas – liefde vir jou naaste (Lev 19:18) en dan oor hierdie kombinasie sê: Geen ander gebod is belangriker as dié nie.

Jesus se woorde in vers 34 wys dat die fariseer homself waarskynlik by ‘n kruispad bevind waar hy nie anders kan as om ‘n keuse te maak nie. As vraagsteller is Jesus se woorde aan hom soos ‘n uitnodiging om God se pad te kies. Maar dit plaas elke volgende leser ook by ‘n kruispad, waar daar (dalk weer) ‘n keuse gemaak moet word.

Ons dink DV komende Sondag saam na oor die implikasies van Jesus se kragtige opsomming van die wet.

 

Sorry, the comment form is closed at this time.