Boodskap vir die week
Ons monde is met gelag gevul! Psalm 126
Die Here het ons lot verander. “Daarna is ons monde met gelag gevul, ons tonge met jubelkrete.” So sing die Psalm 126. Ons almal het waarskynlik sulke verhale van lotsveranderende ervarings. Trouens, ons almal sal soos Dawid ’n Psalm kan skryf en vertel van die dag waarop ons in die donkerte gestaar het en geen hoop gehad het nie. En toe, op ’n wonderbaarlike manier kom God en verander jou lot. Skielik is jou toekoms vol moontlikhede en hoop.
Die Reformasie was ’n lotsveranderende tyd vir die kerk en vir gelowiges. Die Rooms Katolieke Kerk was in beheer van alles wat met die geloof te doen gehad het. Toe, op die 31ste Oktober 1517, kap Martin Luther sy 95 stellinge teen die deur van die Domkerk in Wittenberg vas. Die lot van miljoene gelowiges het op daardie dag radikaal verander. ’n Radikale omkeer het plaasgevind. Mense het geleer dat hulle alleen op grond van die genade van God gered word. Mense het ontdek dat hulle nie hulle verlossing kan verdien nie. Mense het skielik verstaan dat hulle self die Bybel kan lees en daardeur self die stem van die Here kan hoor. Mense het verstan dat ’n mens deur geloof gered word, maar geloof sonder meriete. Dit was ’n radikale lotsverandering.
Goddelike lotsveranderinge vind steeds plaas wanneer mense ontdek en besef dat God se liefde en trou stand hou. Dit vind plaas wanneer mense radikaal hulle lewe in Sy hande plaas. Dit vind plaas wanneer mense hulle volle vertroue in Hom plaas. Dit gebeur wanneer mense ondervind dat God hulle roep om met alles in sy Goddelike diens te leef. Lotsverandering is ’n werklikheid, en dit is in Christus altyd ’n moontlikheid. Die Here kan jou lot verander. Jy kan in die duisternis bly staar, of deur die lotsveranderende krag van Christus na die Lig leef.Mag God ons almal se lot weer en weer verander wanneer ons eie meriete en vermoẽ ontoereiekend is.
Sorry, the comment form is closed at this time.