Boodskap vir die week
Vrede vir jou! Johannes 14:27
Die wêreld waarin ons leef, steel al te dikwels ons vrede. So sal die meeste van ons toegee gedagtig aan al die misdaad en korrupsie en al die ellendes waarmee ons byna daagliks gekonfronteer word. Maar daar is ook die natuurlike goed wat met ons gebeur wat ons vrede steel. Ons ken byvoorbeeld kommer oor die welstand van ’n kind, ‘n ouer of ons eie. Maar, sal ons waarskynlik almal toegee, ons vrede is veronderstel om darem duurder of duursamer te wees as iets kleins wat ons ontwrig, iemand wat voor ons inry, of ’n klein verlies wat ons tref. Ons is immers gelowiges wat weet dat die een ding wat Jesus herhaaldelik aan ons gee die belofte van vrede is. Daardie vrede behoort nie sommer so maklik van ons gevat te kan word nie.
“Vrede laat ek vir julle na- my vrede gee Ek julle. Ek gee dit nie vir julle soos die wêreld dit gee nie. Laat julle harte nie ontsteld en bang wees nie.” So sê Jesus in Johannes 14:27. Die dissipels se harte was inderdaad ontsteld en bang, want Jesus het geê Hy gaan hulle verlaat. Hulle toekoms was onseker. Wanneer Jesus egter na sy opstanding aan sy dissipels in die bovertrek verskyn, vertel Johannes in Johannes 20:19, groet Hy die dissipels met die woorde: “Vrede vir julle!” Dan wys Hy aan hulle die merke in Sy hande. Dit beteken vrede ten spyte van wonde. Vrede ook te midde van ontwrigting en onsekerheid.
“Shalom” was die bekende groet waarmee die Jode mekaar gegroet het. “Heelheid vir jou,” beteken dit. Dit beteken ook insluiting in die geheel van die gemeenskap. ’n Gemeenskap het ’n bepaalde identiteit. Ons in hierdie gemeenskap doen dinge op ’n bepaalde manier, sal die lede sê. Jy is ingesluit daarin. Ons ag jou. Jy is in. Jy is ’n vriend, nie vyand nie. Die geborgenheid van hierdie gemeenskap is ook joune. En die sekerheid van Jesus se begrip vir jou wonde, is joune. En die teenwoordigheid van die Trooster is joune- alles ter wille van jou vrede. Hoe duursaam is jou vrede? Sal jy dit sielsvrede kan noem, jou vrede?
Sorry, the comment form is closed at this time.