Boodskap vir die week
Psalm 119:19 & Hebreërs 11:13-16
In die lig van die besef van eie verganklikheid, is dit nie vreemd dat menslike broosheid ‘n deurlopende tema in die Psalmboek is nie. As gevolg hiervan is dit dan ook nie ongewoon dat die psalmdigter sy bestaan hier op aarde as ‘n deurtog, ‘n vreemdelingskap beleef nie.
Psalm 119:19 verwoord hierdie lewensgevoel van vreemdelingskap treffend: “Ek is ‘n vreemdeling op aarde, moenie u gebooie vir my verberg nie.” Vreemdeling het in die Bybelse sin verwys na iemand wat as gevolg van verskillende omstandighede die vaderland
verlaat het en nou toevlug soek op ‘n ander plek: soos Abraham in Hebron (Gen 23:4), Moses in Midian (Eks 22:21) en Rut en haar familie in Moab (Rut 1:1).
As vreemdeling het hy geen regte gehad nie en was volledig aangewese op die genade en hulp van ander. Hierdie vreemd en ontwortel wees van die vertroude eie, sonder regte, maak die
digter in Ps 119:19 op homself in ‘n geestelike sin van toepassing. Hy is ‘n “vreemdeling op aarde” wat beteken dat hy sy aardse lewe as ‘n deurtog beleef.
So gesien is die gelowige ‘n permanente reisiger op weg na ‘n ewige tuiste (1 Pet 1:17; 1 Pet 2:11). Die gelowige het dus hemelse burgerskap. Maar, hierdie burgerskap mag nooit inhou dat die aardse “vreemdelingskap” gering geskat word nie. Christene wat werklik glo in die hemel, sal iets van daardie hemel hier op aarde wil sigbaar maak.
Die reisgids, Sy Woord, is vir ons gegee. Laat ons met hierdie Woord in ons harte die nuutheid en andersheid van ons denke en lewens op ons pelgrimsreis aan ander wys en daarmee duidelike tekens oprig van Sy komende ryk!
Sorry, the comment form is closed at this time.