Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

‘n Vraat en ‘n suiplap?

In Matteus 11 vertel Jesus hoe die Jode van Johannes die Doper en van Hom ’n karikatuur maak. Die Jode het bedreig gevoel deur hulle en het daarom van hulle slegte goed gesê. Johannes het hom afgesonder van die wêreld. Toe sê hulle hy is van ’n demoon besete. Jesus daarenteen het hom bemoei met sondaars en ín die wêreld geleef. Toe sê hulle Hy is ’n vraat en ’n suiplap. Hierdie soort  vertekening van mense is duidelik sonde. So mag ons nie met mense omgaan net omdat ons van hulle verskil nie.

Maar daar is ook ’n anderkant aan hierdie uitspraak oor Jesus. Die feit dat Jesus hom bemoei het met mense, ín hulle wêreld ingekom het, tussen hulle kom leef het, geassosieer het met hulle gedrag, positief was oor baie van hulle lewensgewoontes, soos bv om wyn te drink en lekker te kuier aan hulle huistafels, daarin sien en hoor ons belangrike goed van Jesus se lewenshouding. Maar dis tog asof ’n mens vir Jesus sou wou sê: Wat het jy nou eintlik verwag? Jy hét immers saam met sondaars geëet en wyn gedrink, en dit binne ’n wettiese sasmelewing waar dit ’n taboe was.  Dis alles goed en wel, maar dan moet jy verstaan as die Jode jou name noem. In Matteus 5:13 het Jesus al gesê: “Julle is die sout van die aarde…” en “Julle is die lig vir die wêreld.” Jesus demonstreer sout- en lig-wees by die siekes en die tollenaars. Ja, Hy eet en kuier by hulle aan huis, drink saam met hulle wyn, vermeerder selfs die wyn by die bruilof in Kana. Hy leef ín die wêreld. Wat maak dat die Jode heeltemal verkeerd is oor Hom? Hulle het immers nougeset die wette gehoorsaam, hulle afgesonder, by die eetreëls gehou, die tempeldiens getrou verrig, “hoë sedelike standaarde gehandhaaf,” en Hy nie.  Hoekom is hulle verkeerd oor Jesus se status as vraat en suiplap? Maar wat maak dat Hy nie ván die wêreld word in daardie situasies nie, en Sy sout kragtig bly en sy lig die duisternis verdryf.

En hoe is ons in die wêreld? Ja, waarskynlik goed ín die wêreld, maar, is ons nie dalk so ván die wêreld dat die sout laf is en die lig flou is nie?  Hieroor moet ons goed nadink.

 

Sorry, the comment form is closed at this time.