Boodskap vir die week
Prediker 12:9-14
Die Prediker was ‘n man met wysheid wat die volk onderrig het. Hy het alles in hierdie wêreld nagevors, alles probeer in sy soeke na die sin van die lewe.
Hy het op intellektuele vlak homself en ander verruim met boeke, kennis en wysheidskole (1:16-17). Hy het die kreatiewe dimensie van menswees ten volle probeer ontgin: die kuns met sy sangers en sangeresse (2:8); die kultuur met sy ontspanning en gerief; die tegniek met sy groot ondernemings (2:4-6). Hy het die ekonomiese wêreld betree en vir hom rykdomme vergader (2:8). Hy het hom aan die plesier van die lewe oorgegee (2:3,8,10).
Wat opval is dat die Prediker na elk van hierdie momente in sy soeke na die sin van die lewe verklaar dat hy geen sin daarin kon vind nie. Waarom oordeel die Prediker dan so negatief oor al hierdie dinge?
Die Prediker het al die gawes wat die Gewer maar kan gee: gesondheid, wysheid, rykdom en veel meer. Tog ontbeer hy – oënskynlik en aanvanklik – die Gewer van die gawes. Bokant hom is die hemel geslote. Hy mis skynbaar die sin wat bokant die son by God te vinde is.
Maar dan verras die Prediker. Sy slotsom is uiteindelik nie dié van berusting en sinneloosheid nie. Hy leer die volk om na God te kyk (12:13-14), want hy het geleer om weg te kyk van die aarde, van mense en hul moontlikhede. Kyk weg van jouself, kyk na God, en keer saam met Hom terug na jouself en al die wonderlike gawes. En jy sal vind: daar is ‘n nuwe genot in alles onder die son!
Sorry, the comment form is closed at this time.