Boodskap vir die week
“Bevryding!” ( Eksodus 15, Matteus 26: 27-28, 39, Johannes 19:28, Openbaring 15 & 16:17-19)
In Februarie vanjaar word Suid-Afrika geskok deur die nuus van die verdwyning van die klein Joshlin Smith (6 jaar) in Diazville in Saldanha. In Mei-maand ruk die hartseer gebeure by Hoërskool Overberg Suid-Afrika weer met die moord op Deveney Nel (16 jaar)! Hierdie en talle ander gevalle van kinders en selfs volwassenes wat vermis raak en steed nie gevind is nie is gereeld voorbladnuus. Vir ‘n tyd lank skok dit ons, is ons ontsteld oor die onreg en dink ons aan die slagoffers en hul families, net om na ‘n ruk weer aan te gaan met ons lewens. Totdat dit in ons eie gemeenskap gebeur!
Kom luister Sondag-oggend na Maygene De Wee (spesialis misdaadverslaggewer by Netwerk 24) en Nadine Blom (prokureur,
aanlynveiligheidsafrigter en sanger) wat meer lig kom werp op die realiteit van geweldsmisdaad en mensehandel en hoe dit selfs onder ons neuse kan plaasvind.
Ons kan bloot kennis neem van statistiek en van tyd tot tyd saamvoel met slagoffers en diegene wat dit beveg en daaroor verslag doen. Of ons kan, met die mandaat wat ons van God ontvang, aktief optree.
God gebruik mense, soos ‘n Moses, om gevangenes te bevry. Hy stuur Jesus om ons te kom wys hoe lyk praktiese omgee en liefde vir ons naaste. Met Sy dood aan die kruis drink Jesus namens ons die beker van God se oordeel oor sonde vir die wat glo. In Openbaring kom vertel Johannes egter hoedat Jesus weer met die oordeelsdag God se oordeelsbeker uitgiet op die onderdrukkers en sondaars.
Tussen die twee oorwinningsliedere van Moses (Eksodus 15 en Openbaring 15) vind ons in die Evangelies die voorbeeld van Jesus wat ons roep om in Sy spore te volg in die aktiewe bevryding van mense in “slawerny”.
Ons nooi jou om komende Sondag nooi as gesin (ouers en jongmense), as oupas en oumas, ooms en tannies en as deel van ‘n groter geloofsfamilie te kom luister na hierdie baie aktuele en belangrike gesprek.
Vir meer inligting, gaan besoek gerus – 0800222777.org.za
Sorry, the comment form is closed at this time.