Boodskap vir die week
Welgemoed Kunstefees 2024
Kunstenaars het die wonderlike vermoë om mense in te trek in hulle verbeeldingswêreld. Dink maar net wat met jou gebeur as jy na George Frideric Handel se Messias luister. Of kyk na die Sterrenag van Vincent van Gogh. Of luister na Koos du Plessis se Gebed laataand in die stilte, as dit resoneer met die bewegings van jou hart. Vir ons as gelowiges het die kuns van die gebruik van beelde en metafore vanselfsprekend geword. Dis immers hoe die Bybel praat oor God. God word ’n Vader genoem. Ons verstaan dit metafories. Hy is immers nie ’n biologiese Vader nie. Hy is soos ’n volmaakte liefdevolle en troue vader. So verstaan ons dit. Die Messias, sê Jesaja 11, is ’n takkie wat uitspruit uit die stomp van Isai. Johannes sien vir Jesus aankom en sê: “Kyk daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” Al die metafore en analogieë verbreed ons insig en begrip, ons vermoë om te weet wie God is.
Uit klip het Michaelangelo in 1498 die Pietá gekap, Maria wat sit met ‘n lewelose Jesus op haar skoot. Of dit nou met kwas en penseel is, met die note van ’n Johann Sebastian Bach se barokorrel in Leipzig is, en of dit met woorde en metafore is, kunstenaars ontsluit vir ons ’n wêreld anderkant en groter as die benouende en dikwels lewenemende oënkynlike realiteite van die wêrelde waarin ons leef. Trouens, kunstenaars vertolk en breek werklikhede oop. Hulle bied perspektief, of ’n lens, of ’n vergrootglas, of ’n teleskoop, om die werklikhede om ons, soms subtiel, te herposisioneer in ons denke en bestaan. Kunstenaars kan ook skok. Soms is hulle profete. Soms word die alledaagse deur ’n kunstenaar soos Banksy omtower deur doodgewone straattonele verrassend te vul met nuwe moontlikhede. Kunstenaars speel eenvoudig ’n buitengewone rol in ons lewe.
Elke generasie het kunstenaars nodig. Of dit nou dramaturge of skilders of musikante of beeldhouers is, ons het hulle perspektiewe en kommentaar nodig sodat ons kan sien en beleef en uitgedaag word om beter te verstaan wie en waar ons is, en veral waarom ons is. Ons kunstefees dra hiertoe by. Trouens, mag die fees ons inderdaad help om die lewe as gawe opnuut te verstaan en beleef en waardeer. Mag daar vir ons oomblikke van ontnugtering, verrukking en grootsheid wees wat ons inspireer om voluit die Skepper te dien
Sorry, the comment form is closed at this time.