Boodskap vir die week
Wat maak jy hier, Elia? 1 Konings 19:9-13
Oor die eeue was daar baie sieninge oor die betekenis van die woord ‘siel’. Wat is die siel van die mens? Is dit iets in die brein? Is dit iets wat geweeg kan word? Daar ís immers mense wat beweer dat ’n liggaam minder weeg net nadat ’n mens te sterwe gekom het. Daar word gesê ons siel gaan hemel toe wanneer ons te sterwe kom. Maar wat is dit wat hemel toe gaan?
Ons moet weer dink oor die betekenis van die siel. Voorheen het predikante immers baie gepraat oor die redding van siele. Dalk sal dit help as ons ook dink oor die betekenis van die woord sielloosheid. Ons weet immers wat dit beteken as ons sê iemand se optrede was sielloos. So weet ons wat dit beteken as ons sê dat ’n pianis of ’n sanger ’n siellose vertolking van ’n musiekstuk gelewer het. Dan bedoel ons dit was passieloos, sonder emosie of sonder ’n persoonlike bydrae van die pianis of sanger. Ons sou ook kon sê die persoon se hart was nie daarin nie. Ons ervaring van die sielloosheid van iemand se optrede kon natuurlik ook daarmee te doen gehad het dat die luisteraars wat om een of ander rede nie geroer is nie. Dalk het dit te doen gehad met die apatie of sielloosheid van die luisteraars.
Elia bid in 1 Konings 18 tot God om natgemaakte offers op die altare met vuur uit die hemel aan die brand te steek. Dit nadat die Baälaanbidders sonder sukses probeer het om die vuur aan die brand te bid. Dan gebeur die wonder en God steek die altaar aan die brand. Maar kort op hierdie ‘geloofstriomf” van Elia vind ons hom sielloos lê onder ’n alleenstaande witbesembos. Dis haas onverstaanbaar. Maar Elia het ’n vreemde, dog intense behoefte om God anders, intiem te ervaar. Dit is hierdie behoefte van Elia wat ons kan help om die begrip ‘siel’ te ontsluit. Vandag dink ons hieroor na.
Sorry, the comment form is closed at this time.