Boodskap vir die week
Skriflesing: Psalm 23
Ons sit vandag aan by die nagmaaltafel. Ons besin in besonder oor verse 2-3(a) van Psalm 23: “In groen weivelde laat Hy my rus; na water waar daar rusplek is, lei Hy my. Hy gee my nuwe lewenskrag …”
Hier aan die tafel word ons geloofsoog opnuut op Christus gefokus wat sy lewe vir ons weggegee het. Hier word ons geloofsknieë sterk, en brand die vlam van hoop weer hoog. In hierdie sin is die nagmaal ‘n geloofsopbou-fees.
Ons word aan Sy tafel gevoed met die vernuwende krag wat Hy aan ons skenk. Toki Miyashini, ‘n Japannese Christen, skryf na aanleiding van Psalm 23 oor hierdie innerlike krag wat in ons uitgestort word die volgende:
“U laat my aansit by ‘n feesmaal van vernuwende krag te midde van die geharwar om my. U ontvang my soos ‘n eregas in die ruimte van u liefde. U oorlaai my met hartlikheid ten spyte van die kilheid van spertye. My beker van energie loop weer oor. U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly. Harmonie en werkbevrediging sal die vrug wees van my arbeid, want ek volg die pas wat Ú aangee. Ek sal tuis wees in u vrede te midde van die gejaagdheid van die wêreld tot in lengte van dae.”
Gaan u deur die donker dieptes van onmoontlike take en haastige beslissings? Soek u na die herstel van die kalmte van gees? Smag u na vrede in u gemoed wat lei tot die regte keuses wat u moet neem?
Kom sit aan saam met geloofsgenote by hierdie fees – hier waar die Gasheer ons laaf met herinneringe aan groen weivlede en waters waar daar vrede is.
Sorry, the comment form is closed at this time.