Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

2 Samuel 11: Die God van Dawid

Die skrywer van Samuel vertel die verhaal van Dawid met baie detail. Die intriges van Dawid se lewe is meer intens, ontwrigtend en uitdagend as enige sepie of Netflix-reeks waarvan ek al gehoor het. In hfst 11 laat Dawid ’n man doodmaak om met sy vrou te kan trou. Dis growwe sonde, veral vir ’n man wat bely dat hy die Here ken en oneindig dankbaar is vir die genade wat hy van God ontvang het. Dit is immers God wat hom agter die skape gaan uithaal het om hom die held van Israel te maak. Maar ons ken die treintjie van money, sex and power mos al te goed. Of, die spreekwoord wat sê, “power tends to corrupt, and absolute power corrupts absolutely.”

Dawid se mag en sy wellus oorwin sy waardes en dankbaarheid en afhanklikheid van God. Mag maak ’n mens blind, nie net vir ander nie, maar ook vir jouself. Die profeet Natan vertel net in die volgende hoofstuk vir Dawid ’n storie wat direk op sy sonde met Batsheba betrekking het, maar die slimme Dawid is so magsbehep dat hy nie agterkom dat Natan eintlik van hom praat nie. Die man in Natan se storie moet dood, sê Dawid. Gebruik mag, wis hom uit. So ’n vuilgoed!! Net om te hoor dat Natan eintlik van hom praat. Die storie eindig egter op ’n ander plek.

Psalm 51 is ’n geskrewe weergawe van Dawid se berou. En dan vertel die geskiedenis hoe God vergeef. Die storie gaan eintlik nie oor Dawid wat so voortreflik was om berou te hê nie. Nee wat, as ’n mens so drooggemaak het, is berou mos ’n logiese en regte gevolg. Maar wat nie so logies is nie, is God se totale vergifnis.  In Dawid se nageslag staan die naam van Absolom, die seun wat hy by die vrou van Urija verwek het, en later, veel later, na alles wat met Israel gebeur het, na al die diskontinuiteit in die storie van Israel, staan die naam Jesus. Hierin leer ons vir God ken.

So neem nou jou eie storie. En kyk of jy jouself kan sien, regtig kan sien sonder om jouself te verdedig en te veronskuldig. Dalk wil jy jou ook ‘n  Psalm bid of skryf.  En dink oor God. Dink oor God…

 

Sorry, the comment form is closed at this time.