Boodskap vir die week
Matteus 7:1 & 2
Jesus lê in die Bergrede sy verstaan van die Wet van Moses uit. Hy is duidelik daaroor; die Wet moenie afgewater word nie. Inteendeel, sê Hy, die breër betekenis daarvan moet eerder verstaan word. Jy oortree nie net die sesde gebod wanneer ons iemand fisies doodmaak nie, maar ook wanneer jy jou broer haat. En jy oortree nie net die sewende gebod wanneer jy in ’n hof skei nie. Nee, jy oortree ook hierdie gebod wanneer jy met verkeerde seksuele begeertes na mense kyk. Die handhawing van die Wet gaan om meer as uiterlike handelinge, leer Hy. Dit gaan ook, en veral, om die gesindheid en die houding waarmee jy leef.
Dit was vir Jesus nodig om hieroor duidelik te wees, want in die Joodse samelewing is daar hard oor mense geoordeel. Op grond van allerhande uiterlike oorwegings was mense “in” of “uit”. Die wat “in” was kon offer en deelneem aan die Joodse kultus. Die wat “uit” was vanweë siekte of sonde is selfs die binnekant van dorpe en stede verbied. Dan verduidelik Jesus dat die lewe in die nuwe koninkryk wat Hy vestig, anders is. Een van die belangrike kenmerke van hierdie koninkryk is dat daar nie so geoordeel word oor mense nie. Die probleem, sê Jesus, is dat mense wat oordeel ander se klein foute raaksien, maar nie hulle eie groter foute nie. Wees daarom versigtig om te oordeel oor ander, sê Hy.
Die belangrike werklikheid is dat daar net een maatstaf vir almal is. Om self te voldoen aan die eise wat jy vir ander stel, is meestal baie moeilik en selfs onmoontlik. Al te dikwels is die groot sondes wat jy by ander sien, subtiel, maar nie minder aktief nie, ook in jou lewe aanwesig. Ons moet hieroor goed dink. Dit kan immers moontlik wees om soos die Fariseërs die buitekante van borde en bekers te was, maar aan die binnekant vol inhaligheid te bly (Lukas 11:37).
Sorry, the comment form is closed at this time.