Boodskap vir die week
In die eerste deel van die Romeine brief gee Paulus aandag aan groot teologiese temas rondom genade, verlossing en geloof. Na hierdie fondament stewig gelê is wys Paulus vanaf hoofstuk 12 wat die implikasies van hierdie temas is vir die Christelike
geloofslewe.
‘n Belangrike deel hiervan is hoe gelowiges mekaar moet aanvaar en in vrede met mekaar lewe. Dit geld vir gelowiges uit die
Jodedom sowel as vir gelowiges uit die heidendom. Ons kan ons moeilik indink hoe groot hierdie skuif was vir beide groepe: In die eerste eeu het hierdie groepe nie naby aan mekaar gelewe nie, maar met die koms van Christus voeg Hy hulle saam tot ‘n nuwe gemeenskap.
Met uitvoerige aanhalings uit die Ou Testament wys Paulus vir beide groepe dat hierdie samevoeging eintlik altyd deel van God se plan was. Paulus se keuse van aanhalings is opvallend, omdat daar uit elkeen van die drie dele van die Ou Testament kom: Een aanhaling uit die Wet (Deut. 32), een aanhaling uit die profete (Jesaja 11) en twee uit die geskrifte (Psalms). Die kerk in Rome kan nie nou besluit dat een van die twee groepe nie hoort nie en hulle word opgeroep tot eensgesindheid en vrede.
Hoewel hulle daartoe opgeroep word, word die krag daarvoor nie in hulself gevind nie. In vers 7 lees ons hoe ons mekaar moet aanvaar soos Christus ons aanvaar het en in vers 13 dat die krag van die Heilige Gees dit in ons bewerk.
In ‘n tyd waar dit dikwels voorkom asof mense verder van mekaar af beweeg, selfs in die kerk, is dit belangrik om in gedagte te hou dat God ons eintlik bymekaar wil hê. Dat ons in eengesindheid en vrede met mekaar sal leef. In hierdie Adventstyd word ons genooi om ons lewens weer daarop te rig.
Sorry, the comment form is closed at this time.