Boodskap vir die week
Die kerkraad van die bekende Gosnner-Missionskirche in Berlyn het in 1965 die Switserse skilder Willy Fries versoek om ‘n muurpaneel vir die kerk te skilder. Die skildery moes iets weergee van die roeping van die kerk in die wêreld, maar veral ook aan die inhoud van die Evangelie, die inhoud van die Goeie Nuus, wat deur die kerk in die wêreld verkondig word.
Sy keuse was die uitbeelding van die groot maaltyd soos dit in Lukas 14:15-24 beskryf word. (Foto hierbo)
Die intensie van die skildery kan soos volg opgesom word:Aan die boonste rand van die skildery is daar skaduagtige figure, goed geklee, maar net van agter – besig om eensaam, elkeen op sy eie paadjie ‘n donker woud tegemoet te stap. Net die flou lig van die maan val op hulle … hulle eindbestemming is onbekend.
In die middel van die paneel staan ‘n groot ronde tafel as treffende fokus. Die lig val daarop. Dit is gedek met oorvloed brood en wyn. Een van die aan tafel – is dit die Here self?
Rondom die tafel is hulle versamel, mense met alle velkleure, alle rasse. Uit die donker op die voorgrond van die skildery stroom hulle na die tafel, op krukke of deur makkers ondersteun.
Almal is uitgenooi, geneen benodig ‘n identiteitsdokument nie. So lyk die koninkryk van God in hierdie wêreld, so behoort die kerk as uitdrukking van van hierdie koninkryk te lyk.
Sorry, the comment form is closed at this time.