Boodskap vir die Week
Teks: Romeine 13:11-14
Paulus gebruik die beeld van die nagwag wat die slapendes in die môre wakker maak met die woorde: “word wakker, kyk hoe laat is dit al!”
God se wekker afgegaan! Met die môrerooi van Kersfees het die daeraad van die Goddelike heil aangebreek, die nag is aan die verbygaan. Die skynbaar nimmereindigende nag vol van duister, vol van geweld en trane, vol politieke dooiepunte, vol liefdeloosheid, ens. Hierdie nag word beëindig deur die nuwe gloed in die Ooste … Kersfees!
God breek in die geskiedenis in en Hy wil die nag laat wyk. Daarmee gaan die “ou dinge verby” en word alles nuut
(2 Kor. 5:17).
Alle verhoudinge met die naaste (8-10) én die geloofswandel in die wêreld (12-14) moet nou in die lig hiervan staan. Alles wat die gelowige doen, kry ‘n dringendheid en nuwe gerigtheid vanuit die wete van die kairos (God se gunstige tyd), dié wete dat die dag nou dáár is. Dit word ‘n datum tussen al die datums; dit word die Goddelike beweging wat die rat van die vasgeroeste en doodlopende geskiedenis in beweging bring.
Wie nie daarin leef nie, is nog aan die slaap, terwyl dit al laat is. So iemand verkeer nog in die waan dat dit nog nag is. Hy/sy lê nog in die heerskappy van die nag en laat sy/haar lewe die stempel van die nag kry: vol selfliefde en uit op die bevrediging van selfsugtige begeertes. Wie nog so lewe, gee te kenne dat hy/sy nie weet hoe laat dit is nie!
Daarom wil die gedeelte die gelowige opwek om uit die slaap wakker te word (11). Om die tydsomstandighede te ken, beteken om daadwerklik die nagaktiwiteite te staak en aktief met die dagtaak te begin. Dit beteken enersyds dat al die gesindhede en dade wat by die duister hoort, afgelê word. Aan die ander kant word beklemtoon dat die lewe in die dag nie ‘n luilekker lewe is nie. Daarvoor is die wapens van die lig nodig.
(vgl. Ef. 6:11 e.v.).
Die wete van die dag motiveer die gelowige dus tot die lewenshouding van liefde, maar ook tot ‘n nuwe lewenswandel wat by die dag hoort (12,13). Die gelowige doen dit nie uit eie krag nie. Die “beklee met die Here” (1933 Vertaling, vers 14) wys daarop dat die gelowige ‘n volgeling van die Here is onder Wie se vaandel en in Wie se kleure hy/ sy in die wêreld veg. So word die “kleed” die kenteken van die gelowige – die bewys dat daar ‘n innerlike verandering by die draer daarvan gekom het. Dit is God se kersgeskenk vir my en jou – dié nuwe kleed! Trek die oue van die ou jaar uit. Trek die nuwe een aan. Geseënde Advent en Kersfees vir jou!
Sorry, the comment form is closed at this time.