Boodskap vir die week
Skriflesing: Nehemia 1 & 2
Koning Kores van Persië het Babilonië in 539 vC verower. In 538 vC laat hy ‘n klomp Judeërs uit ballingskap vry om na Jerusalem terug te keer.
In die twintigste regeringsjaar van Koning Artasasta (465-424 vC) deel Nehemia se medeamptenare hom mee dat die teruggekeerde ballinge in Jerusalem groot ellende en
vernedering ervaar. Die stad se muur is stukkend en die stadspoorte verbrand. Nehemia is hieroor hewig ontsteld. Hy het dae lank getreur en gevas soos iemand wat rou. Toe het hy gebid.
Hy aanvaar dit as sy roeping om na Jerusalem toe te gaan en die stad se verdedigingsmuur te help herbou. Nehemia is die koning se skinker. Hy ontvang die toestemming van die koning en
vertrek Jerusalem toe met al die nodige dokumente.
Hy slaag daarin om die Judeërs oor te haal om met die herstelwerk te begin. Hulle is begeester vir die taak en die werk word met die steun van oraloor en met groot entoesiasme aangepak.
Daar is egter teenstand. Sanballat, Tobija en Gesem van die buurvolke doen alles in hule vermoë om die werk deur beledigings, spottery en sabotasie tot stilstand te dwing. In die
geledere van die Judeërs self maak die gierigheid van die geldskieters dit onmoontlik vir hulle minderbevoorregte landgenote om aan die werk deel te neem.
Deur sy bekwame leierskap los Nehemia hierdie probleme op en deur gebed, bemoediging en organisasie gaan die werk voort. Die muur word binne ‘n rekordtyd van 52 dae voltooi.
Die entoesiasme van die Judeërs, hulle bereidheid om na God se Woord te luister en hulle gewilligheid om te spyte van teenkanting en probleme vir God te werk, is hier ‘n voorbeeld van wat dit beteken om kerk van God te wees.
Let veral op die rol wat gebed speel. Nehemia het aanhoudend gebid. Hy het alleen gebid. Hy het skietgebede opgestuur. Hy het voor die volk vir hulle by God gesmeek. En God het hierdie gebede verhoor!
Sorry, the comment form is closed at this time.