Boodskap vir die week
Skriflesing: Genesis 1 & 2
Ons lees in Genesis 2 vers 7 dat God byna soos ‘n pottebakker die mens uit die aardse stof te voorskyn laat tree. En Hy blaas in hom die asem van die lewe.
God plaas die mens in die tuin van Eden. Dié tuin het God self aangelê. Daaruit blyk sy sorgsaamheid vir die mens.
In die tuin is daar naas al die ander lewegewende dinge ook twee bome waarna die mens nie sy hand mag uitsteek nie: die boom van die lewe en die boom van goed en kwaad, oftewel van alle kennis.
Hierdie bome is daar geplaas om iets van God bekend te maak en om die mens tot selfkennis en insig te bring. God wys die mens op die moontlikheid wat in die tuin aanwesig is, ‘n moontlikheid wat met die mens gegee is en wat die mens soos sy eie skaduwee sal volg. Hierdie moontlikheid is die voortdurende aspirasie van die mens om alles te ken – ook die geheim van lewe en dood; om die hele werklikheid in sy greep te kry; om self vertroud te raak in ‘n kennis wat hom alle mag in die wêreld sal gee. Kortom, die moontlikheid om God oorbodig te verklaar en eiegeregtig ‘n wêreld sonder God te ontwerp.
Die groot keuse waarvoor die mens hier gestel word, is dié tussen lewe en dood; tussen gehoorsaamheid en oorgawe aan God en opstand en veret teen God; tussen ‘n wêreld waar daar eiemagtig geleef word en ‘n wêreld waar daar uit genade geleef word.
God sê daardeur vir ons: Die wêreld en die lewe kan “goed” wees – iets om te geniet, ‘n stukkie paradys. Dit kan egter ook anders wees. En dit is jou keuse.
Ons vier vandag Erfenisdag. Ons kyk terug en waardeer die erfenis wat ons voorgeslagte op vele terreine van die lewe vir ons nagelaat het. Ons doen egter ook introspeksie en besin oor die erfenis wat ons nalaat. Mag die stukkie geskiedenis wat ons skryf die verhhaal vertel van tuinbewones wat nie eiemagtig geheers het nie, maar herders was; nie genadeloos eiebelang gedryf het nie, maar met mense en die natuur God se genadige sorg gedeel het.
Sorry, the comment form is closed at this time.