Boodskap vir die week
Skriflesing: Psalm 46
Pslam 46 is ‘n vertrouenspsalm. By ‘n oppervlakkige lees klink dit of die psalmis dit regkry om sonder ‘n sweem van onsekerheid of twyfel net te weet dat God in beheer van sake is en vir hom sorg.
Die werklike situasie in Pslam 46 is egter ver daarvandaan. Die pslamis sê al hierdie wonderliike dinge van God deels om homself moed in te praat in ‘n situasie wat nie altyd lyk of God in beheer is en besig is om vir hom te sorg nie. Wanneer hy praat van “benoudheid” en “nie bang wees nie” gebruik hy dit nie teoreties nie. As ‘n Israeliet hierdie woorde op sy lippe geneem het, het hy met al die nood en angs van sy lewe voor God gaan staan.
Vanoggend kom staan ons ook met ons nood (sondenood ingesluit), benoudheid en angs voor die Here. Ons nader tot God omdat ons maar alte bewus is dat ons geloof deur probleme en nood oorval kan word.
Die psalmis kyk in sy nood na God – na wié en na hóé Hy regtig is:
- God is die almagtige heerser oor natuur en geskiedenis
(verse 1-4). - Die Almagtige is vir sy volk en kinders ‘n beskutting. Hy is
vindbaar (verse 2, 6,8,12.) - Hy is die God van Jakob wat rekening hou met ons swakheid (vers 8).
In die lig van wie en hoe God is, word ons opgeroep om Hom te vertrou.
Maar ons weet dat geloof in God nie ‘n probleemlose saak is nie. Geloof waarborg geensins vir ons ‘n voorspoedige lewe vry van versoekings, nood en angs nie. Daar is dikwels ander “werklikhede” en “feite” wat weerspreek wat God oor Homself sê en verklaar. Wanneer dít ook ons ervaring is, kom lê die psalmis sy hand op ons skouer en moedig ons aan om nie paniekerig rond te skarrel nie, stil te word, en ons in die God van Jakob se hande te gee (vers 11).
Wie God regtig ken, weet dat dit nie te veel gevra is nie, weet dat ons alle rede het om dit te doen.
Sorry, the comment form is closed at this time.