Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

Huisgesinne, familie en opvoeding                 

Efesiërs 5 en 6

Sterk familieband en huisgesinne is die boustene van ‘n gesonde samelewing. Families is ‘n wyer kring as ’n huisgesin. In Suid-Afrika is die meerderheid huisgesinne uitgebreide huisgesinne. Kinders word meestal binne familiekringe groot waar oupas en oumas baie hard werk om aan kinders ‘n goeie opvoeding te gee. Al te dikwels hoor ons van die sukses wat so behaal is. Volwassenes wat getuig dat ‘n oupa of ouma, of ‘n tante of oom hulle ondersteun het, is baie volop.  Afwesige pa’s is ‘n groot uitdaging in ons land, waar daar nie ‘n sterk ondersteuningsnetwerk is nie.  Statistiek dui aan dat daar waar daar ‘n pa in huishoudings is, die kans vir die kinders om binne die formele ekonomie van die land ‘n plek te vind, ook baie beter is. ‘n Huisgesin met ‘n pa en ma is die heersende werklikheid vir die meeste van ons in ons gemeente, d.w.s. die sogenaamde nukluêre huisgesin.

In die Nuwe Testament is daar ‘n sterk verbintenis tot die nukluêre huisgesin. Die krag van die huweliksband bied die ruimte van veiligheid waarbinne kinders die beste opgevoed kan word. Maar dit is ‘n ideale prentjie. Almal pas nie daar in nie. Vir ons as christene gaan dit egter nie net oor die struktuur van die gesin en familie nie, maar ook oor ons benadering tot gesinne, families en kinderopvoeding. Ons vra wat die Bybel sê oor die aard van gesinne? En oor families? Wat is die dinamika wat in christene se gesinne behoort te geld? Waar lê die gesag in ‘n christelike huis of familie? En hoe moet ons dink oor die woke-kultuur waarvan almal praat? Sondag gaan ons oor hierdie kwessies dink binne ons erediens as ‘n Woord- en pastorale ruimte. Kom dink saam. En gesels dan na die tyd met mede-gelowiges oor die keuses wat julle maak in julle families en gesin.

 

Sorry, the comment form is closed at this time.