Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

Tema: Eet (Gasvryheid)

Fokustekste: Lukas 19:1-10; Hebreërs 13:2; 1 Korintiers 11:17-26

In sy boek Reaching out skryf Henri Nouwen treffend: “Our society seems to be increasingly full of fearful, defensive, aggressive people clinging to their property and inclined to look at their surrounding world with suspicion, always expecting the enemy to suddenly appear, intrude and do harm. But still – that is our vocation: to convert the hostis into hospes, the enemy into a guest and to create the free and fearless space where brotherhood and sisterhood can be formed and fully experienced.”

Wanneer ‘n mens nadink oor die beoefening van gasvryheid – daardie proses waardeur buitetsanders van vreemdelinge na gaste verander word – in ‘n samelewing soos Nouwen dit beskryf besef ‘n mens dat dit nie ‘n alte maklike taak is nie. Daar is inderdaad baie risiko’s wanneer jy jou welwillend aan mense blootstel, veral aan diegene wat jy nie goed ken nie.

Waar laat dit ons?

Hebreërs 13:2 roep ons op om vol te hou om gasvry te wees: “Moenie versuim om gasvry te wees nie, want hierdeur het sommige, sonder dat hulle dit weet, engele as gaste ontvang.” Nouwen sê tereg: But still – that is our vocation ….

Waar en hoe ontvang ‘n mens die motivering om met hierdie roeping vol te hou?  

Een van die plekke waar die gelowige nuwe inspirasie ontvang is aan die nagmaaltafel. Wanneer jy die brood en die wyn uit die gasvrye, vrygewige en barmhartige Gasheer se hand ontvang kom ‘n mens opnuut tot die besef van onverdiende genade. Die gasvrye God ontvang my, bemagtig my opnuut en stuur my met Jesus se liefde waagmoedig die wêreld in. En wanneer moontlike risiko’s my huiwerig maak kom die Gees my te hulp. Hy maak my vry om gasvry te wees en help my om te onderskei ten opsigte van die dinge wat saak maak.

Op hierdie weg sê Matteus 25:35 wag daar ‘n groot Verrassing: “Ek was honger, en julle het vir My iets te ete gegee; Ek was dors en julle het iets te drinke vir My gegee; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My as gas verwelkom.” Dit is ook / veral by die geringstes waar Christus my ‘n op verrassende wyse ontmoet (Matteus 25:40).

Hy nooi jou na Sy tafel. Hy wil jou bemagtig. Hy wil jou stuur. Daar is interessante plekke buite jou gemaksone waar Hy op jou wag!

 

Sorry, the comment form is closed at this time.