Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

Prediker 3: 9-15
Die Prediker was ‘n man wat alles in hierdie wêreld nagevors het in sy soeke na die sin van die lewe.
In hoofstuk 2 lees ons dat hy homself op intellektuele vlak verruim het met kennis. Hy het geregtigheid nagespeur. Hy het die kreatiewe dimensie van menswees ten volle probeer: die kunste en kultuur. Hy het vir hom rykdomme vergader en aan die plesier van die lewe oorgegee. Sy slotsom? “En kyk, alles was sinloos en ‘n gejaag na wind.” (2:10)
Hoe moet ons dan die Prediker verstaan?
Die Prediker het al die gawes wat die Gewer maar kon gee. En tog vind hy geen sin daarin nie. Hy mis skynbaar die sin wat by God te vinde is.
En tog berus hy hom nie in die sinneloosheid nie. Die Prediker het geleer om weg te kyk van die aarde, van mense en hul moontlikhede – hy het geleer om na God te kyk. Dit dui die enigste sin in die lewe aan! ‘n Mens hoor dit waarskynlik die duidelikste in die slotsom van die Prediker aan die einde van die boek: 12:13-14.
‘n Mens tref by die Prediker hierdie driedubbele beweging aan, weg van jouself, na God en met Hom terug na die werklikheid. Want sien die Prediker het niks teen al die dinge wat hy in hoofstuk 2 nagejaag het nie. Alleen maar vanuit hierdie dinge is nie sin af te lei nie, maar met God word sin daaraan gegee.
Daarom skryf hy die sogenaamde carpe diem-uitsprake, te wete 3:12,13; 2:24; 3:22; 5:17-18; 8:15; 9:7-10; 11:9-10. Hy gryp nou elke dag aan en vind vreugde in die gewone, eenvoudige huislike dinge in die lewe – om te eet, om te drink, om vrug op jou arbeid te sien, om vreugde in jou metgesel te vind en om jou ligaam te versorg.
Daarom sing hy ‘n nuwe lied: “Eenvoud” is die vreugde van die lewe!

Sorry, the comment form is closed at this time.