Boodskap vir die week
‘n Meesleurende visie
Die wêreld lyk of dit koersloos is, nie weet waarheen dit oppad is nie, en onbeholpe met sy energiekrisis omgaan. Die wêreld dink, bewustelik of onbewustelik die toekoms is donker.
In die Bybel is daar baie voorbeelde van tye waarin mense ook so gedink het. Die toekoms is nagdonker. En telkens in hierdie verhale staan daar ’n dwaas op en praat oor ’n tyd anderkant die swaar, anderkant die lyding en krisis waarin hulle verkeer. Dit is asof die mense dan vir so ’n stiksienige mens wat klaarblyklik die werklikhede om hom net eenvoudig ignoreer, wil sê, maar sien jy dan nie, hoor jy dan nie wat aangaan nie. Wat is fout met jou?
En tog is die visie van ’n beter toekoms vir ander meesleurend. Dit bring mense in beweging. Dit kry hulle aan die werk. Dit laat hulle hande vat. Dit laat hulle hulle verskille vergeet en wat voorheen struikelblokke was, word skielik geleenthede. Die droom trek hulle, sleur hulle mee soos ’n sterk rivierstroom. Hulle glo dat die toekoms anders kan wees.
Ons land kort ’n meesleurende visie. Daar sal mense moet opstaan, verenig agter ’n droom, gemotiveer deur die moontlikhede van ’n gelukkige toekoms wat saam die taak aanpak om daardie toekoms te help bou.
Die evangelie van Christus bied ’n meesleurende droom vir ’n lewe anderkant die ellende van ons dag. Dit is opwindend, dit kan jou lewe verander, dit kan jou fokus skuif, dit kan die diepste motiewe van jou lewe herskik, dit kan jou doen en late radikaal beïnvloed, dit kan jou ’n nuutheid en varsheid laat ervaar waarvan jy voorheen nie kon droom nie. Dit kan jou meesleur, die droom kan alles laat nuut word. Lees solank Jesaja 65:17-25.
Sorry, the comment form is closed at this time.