Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

Skriflesing: Filippense 4:10-20

 

“Here, gee my die kalmte om te aanvaar die dinge wat ek nie kan verander nie. Dapperheid om te verander wat ek kan en die wysheid om die verskil te ken.” Baie mense sal waarskynlik sê dat die moeilikste deel van hierdie bekende gebed die eerste deel is. Kom ons dink hieroor na.

As Paulus sê dat hy geleer het om in alle omstandighede tevrede te wees (vers 11) dink hy ook aan daardie tye in sy lewe toe hy min gehad het, honger moes gaan slaap en gebrek gely het (vers 12). Daar het slegte dinge op sy pad gekom waarmee hy moes vrede maak.

Hoe het hy dit reg gekry om staande te bly? Paulus kon dit doen vanweë Christus se krag in sy lewe (vers 13).

Christus kom nie maar langs ons staan nie. Deur die Gees word Hy één met ons, deel van ons en ons deel van Hom. Deur sy Gees word ons in die goddelike kragveld ingetrek, word ons deel van die goddelike kragveld wat ons omstandighede kan oorwin deur innerlik ‘n ander mens te word: ‘n mens met lewenskrag en lewensmoed.

Ons lewenskrag word gevoed deur die vrede wat Hy gee. Jesus beloof in Joh 14:26 voor sy kruisiging aan sy volgelinge dat Hy vrede vir hulle nalaat. En toe daardie vriende beangs agter slot en grendel sit na sy kruisdood, staan Hy weer tussen hulle en sê: “Vrede vir julle” (Luk 24:36). Vrede, innerlike kalmte, die bron waaruit energie voortkom om te lewe.

En as jou woorde te min is en jou trane te veel, en die vrede taan, sal die Gees weer en weer vir jou diep in jou gemoed verseker: Immanuel: God is by jou, in jou, om jou, vir jou.

 

Sorry, the comment form is closed at this time.