Boodskap vir die week
Filemon
In hierdie persoonlike briefie vra Paulus vir Filemon om sy slaaf, Onesimus, as ‘n broer te ontvang. Ons kan moeilik begryp watter radikale versoek hierdie was: In die antieke wêreld was ‘n slaaf gesien as ‘n stuk “lewendige gereedskap” en nie as ‘n mens nie. Nou versoek Paulus dat hierdie slaaf (wat heel moontlik weggehardloop het en Filemon ander skade berokken het) as ‘n familielid ontvang moet word. Paulus moet dus al sy oorredingsvermoë inspan as hy hierdie versoek rig. Hy moet ook met groot wysheid en sensitiwiteit skryf want die verhouding tussen hom en Filemon kan skipbreuk ly a.g.v. van wat hy vra. Die versoek hou risiko in vir Paulus, vir Filemon en vir Onesimus.
Partykeer word die briefie aan Filemon misgekyk omdat dit
oënskynlik nie gewigtige teologiese redevoerings het soos die brief aan die Romeine of Galasiërs nie. So siening kyk egter die merkwaardige mis: Hierdie briefie maak duidelik wat dit prakties beteken dat God ‘n nuwe gemeenskap skep waar mense gelyk is (Gal 3:28 en Kol 3:11). Paulus is bereid om selfs persoonlik verlies te ly sodat hierdie werklikhede in hierdie geval realiseer kan word (verse 18-19).
As kerk is ons ook geroep tot die bediening van versoening en ‘n nuwe gemeenskap. Kan ons ook soos die rolspelers hier die risiko neem en mense bymekaar te bring, al sou dit ook iets van ons vra?
Sorry, the comment form is closed at this time.