Boodskap vir die week
Die boodskap vir vandag: Deuteronomium 16:1-17
Deuteronomium is op min van ons se gunsteling lys van Bybelboeke, en tog is daar baie om te ontdek as ons die groter verhaal daarvan in ag neem: Dit is in groot mate Moses se “aftreerede” net voor Israel die beloofde land ingaan. Daar gaan hulle ‘n samelewing van nuuts af moet opbou en Moses wil seker maak hulle doen dit in lyn met wat die Here wil, aangesien hy nie self daar sal wees om hulle te lei nie.
In die gedeelte wat ons lees hoor ons van die belangrike feeste wat Israel saam moet vier, naamlik die Paasfees, die Fees van die weke en die Huttefees. Die feeste sal help om die volk saam te bind en dit is treffend hoe verskillende mense ingesluit word en dat dit met groot vreugde gepaard gaan. En hoewel ons dikwels dink aan die wette as baie streng of beperkend, is daar ook ‘n stuk vryheid hier te bespeur, met mense wat self beslissings rondom van die offerandes kan maak.
Die feeste word verbind aan hoe God sy kinders vrygemaak het uit Egipte, en hierdie verlossingsgebeure dien ook as aansporing om vir ander die lewe makliker te maak. Daar is ook interessante heenwysings na die vierdie gebod en vanoggend kyk ons na die konneksies tussen sabbat, feesviering en wat dit vir diegene om ons beteken.
Sorry, the comment form is closed at this time.