Boodskap vir die week
Geloof
Ons leef in ‘n tyd waarin ons geloof openlik bevraagteken word. Baie onlangs het daar ’n boek verskyn met die titel: Die slegte nuus van die evangelie: My reis na verlossing. Die boek is geskryf deur Dr Johan Retief, ’n voormalige leraar van die NG Sendingkerk. In 2020 het daar ook ’n boek van Dr Ben du Toit verskyn wat die bestaan van God bevraagteken, God Is daar ’n ander antwoord? Ben was ’n leraar van die NG Kerk tot en met sy aftrede op 65.
Dit is natuurlik vir ons belangrik om oor geloof te dink. Die wêreld om ons daag ons immers daartoe uit. So baie dinge wat voorheen aan God toegdig is, word nou wetenskaplik verklaar, dit wil sê as gewone natuurverskynsel gesien. Dit is vrae soos of geloof redelik is, of dit voldoen aan die basiese vereistes van ’n goeie teorie, of die bestaan van God wetenskaplik bewys kan word, of die Bybel werklik deur God geoepenbaar is en of dit nie maar net gewone literatuur is nie, wat baie mense deesdae laat wonder oor God self.
Toe Paulus in Athene kom en die talle gode van die Grieke so onder sy aandag kom, het hy net geweet, hy sal oor die enigste ware God moet praat. Hy sal hierdie arme mense met hulle verwarde verstaan van die wêreld anderkant die sienlike moet help. Die Kanadees-Amerikaanse filosoof en Christen denker, Jamie Smith, skryf dat baie mense se verlies aan geloof in God subtiel gebeur. Dit is, so sê hy, soos die dak van ’n groot stadion wat ongemerk toegegaan het. Die toeskouers het so gefokus op die spel voor hulle dat hulle nooit opgelet het dat die dak toegaan nie. Baie mense het so verstrengel geraak in die dinge om hulle en die lewe voor hulle, dat dit hulle enigste werklikheid geword het, ongemerk. Hulle is oortuig dat dit al is wat daar is, hulle kan nie meer verder sien as die onmiddelike nie. Hulle het hulle verbeelding verloor. Nou, die wêreld is stukkend genoeg dat ’n mens jou verbeelding kan verloor. Oor ons sig op God sal ons daarom in hierdie tye goed moet dink. Ons lees Sondag uit Handelinge 17:16-34.
Sorry, the comment form is closed at this time.