Boodskap vir die week
Psalm 30 is ‘n lied waarin die digter getuig van God se merkwaardige reddingswerk in sy lewe. Die vreugde en dank borrel helder na vore. Dit is in die woorde self te sien, maar in die Hebreeus kom dit selfs in die ritme van die gedig voor, wat een kenner beskryf as “restless and excited”.
In verse 2-4 en 9-11 hoor ons van die nood waarin die digter al verkeer het en ook van die hulpgeroep wat na God uitgegaan het. Te midde daarvan is die vraag van vers 10: “Watter nut het dit as my bloed gestort word, as ek na die grafkuil afgaan? Sal stof U prys? Sal dit u trou verkondig?” Die digter maak hiermee ‘n besondere perspektief oop oor hoekom hy dink dit is belangrik dat hy in die lewe bly: Sy lewe is gemik daarop om God se lof te verkondig. Dit is ook uiteindelik wat hy doen. Hy getuig en sing dankgesange tussen medegelowiges oor die wonderlike redding wat God vir hom gebring het.
Hierdie perspektief van die digter is ‘n belangrike een. Ons lewens is gemik tot lof en eer aan God. Hierdie lof en eer kan natuurlik weens ‘n veelvoud redes wees, maar soos ons in hierdie gedig sien het dit ook te make met die antwoord van God na smeekgebede en hulpgeroep. En daarmee sien ons nog ‘n belangrike element raak van ons verhouding met God: Ons is vinnig om God goed te vra, om na hulp te roep, om sy seën oor ons lewe te bid. Net so belangrik is egter dat ons dankie sê, erken wat God gedoen het, Hom prys vir sy antwoord en werk in ons lewe. Anders knip ons eintlik telkens ‘n deel van die reis met God kort. In hierdie Paastyd kan ons ook God loof vir hoe Hy vir ons ook uit die put van doderyk getrek het deur die reddingswerk van sy seun.
Sorry, the comment form is closed at this time.