Boodskap vir die week
Daar is deur die eeue heen baie oor Tomas as persoon gedink en geskryf. Alhoewel daar al baie uiteenlopende antwoorde gegee is op die vraag wie Tomas (Aramese naam), Didimus (Griekse naam), nou eintlik was, is daar tog redelike eenstemmigheid oor die volgende kombinasie van karaktertrekke wat in sy persoon na vore kom.
- Tomas was ‘n nugter verstandsmens, die man wat met albei voete plat op die aarde geloop het. ‘n Mens hoor dit in sy woorde daardie laaste aand toe Jesus aan sy dissipels vertel het dat hulle die weg ken waarheen Hy gaan. Tomas antwoord saaklik hierop: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie, hoe kan ons dan die weg ken?” (Joh 14:4-5)
- Hy was iemand wat graag bewyse wou hê. Hy het veral belangrike dinge in sy lewe nie sommer op hoorsê aanvaar nie. Vandaar sy woorde oor die merke van die spykers wat hy eers wou sien en met sy vinger en hand wou aftas.
- Hy was ‘n twyfelaar. Sy mededissipels en die vroue kon maklik glo en aanhou glo, maar vir Tomas het die twyfel telkens in ‘n knellende greep beetgekry.
- Tomas was ‘n stemmingsmens wat maklik deur swaarmoedige gevoelens oorval kon word. As Jesus aankondig dat Hy saam met sy dissipels teruggaan na die gevaarlike Jerusalem, sien Tomas net die ergste: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterf.” (Joh 11:16)
- Laastens is daar ook, by al die versagtende dinge wat ‘n mens kan aantoon, Tomas se geneigdheid om op sy eie voorwaardes te glo. Hy was nie bereid om sy 10 vriende te glo nie en Christus te soek en te vind waar en hoe die Here verkies om Hom aan Tomas te openbaar nie: “As ek nie …. sal ek nooit glo nie.“ (Joh 20:25)
Maar toe vind Tomas se genesing plaas. Sy vriende het hom gaan haal. Tomas het van sy uniekheid vergeet en ‘n gewone gemeentelid geword – en toe doen hy ‘n unieke ervaring op. Hy wou sien, maar ontdek toe dat hy gesien is! Fisieke sien kan ‘n mens bring tot ‘n erkenning van die waarheid (bv. “Ek gee toe julle was reg, ek sien nou Hy leef”), maar nie tot geloof en ‘n belydenis van die waarheid nie (“My Here en my God!”). Net Christus kan dit doen: die opgestane Christus met sy skeppende, lewegewende woord. Tomas kom tot geloof omdat hy voor die lewende Christus staan en omdat Jesus met Hom praat.
Die opgestane Christus het nie ophou praat nie. Hy praat ook met my en jou – óók vandag!
Sorry, the comment form is closed at this time.