Title Image

Boodskap vir die week 11 Februarie 2024

Boodskap vir die week 11 Februarie 2024

40-Dae Week 2: Saggeus- Lukas 19:1-10

Almal ken vir Saggeus. Hy is mos die mannetjie wat in die boom geklim het om vir Jesus te kan sien. En toe sien Jesus hom. Dalk het Saggeus so gehoop. Maar dit bly wonderlik om te dink dat Jesus die randfigure en die wat na Hom soek, raaksien.

Wat daarna gebeur is natuurlik net so wonderlik. Jesus gaan by Saggeus aan huis. Hy doen dit ten spyte van al die Joodse reëls wat dit verbied het. Ons dink in hierdie dae oor gasvryheid. Ons het reeds geleer dat die Bybelse begrip van gasvryheid gaan oor vreemdelinge, nie familie en vriende nie. Ons het ook reeds geleer dat God ons verras wanneer ons die vreemdelinge innooi.

Maar wat van toelaat dat jy ingenooi word? En wat van uitreik na vreemdelinge wat miskien nie die waagmoed het om na jou uit te reik nie? Gaan gasvryheid nie ook oor jou beweging na ander nie?

Wat is die onderliggende waarde van ’n gasvrye mens? Is dit dan nie openheid vir mense nie? ’n Mens sou dit dalk ook ’n patos (diepe omgee) vir mense kon noem. Christene gee om omdat God vir ons omgee. Christene reik uit, omdat God na ons uitreik. Openheid is die onderliggende waarde, omdat God sy arms vir ons oopgemaak het.

Gasvryheid gaan beslis nie net oor wat jy vir mense sê nie, maar oor wie jy vir mense is, dalk net ’n vriendelike vreemdeling, dalk iemand wat help, dalk iemand wat omgee, dalk iemand wat belangstel.

Uiteindelik is die vraag hoe ’n Christelike geloofsgemeenskap lyk wat die waarde van openheid vir mense as grondwaarde aanvaar. Watter impak het dit op die gelowiges? Watter impak het dit op die geloofsgemeenskap? Watter impak het dit op die mense van die omgewing? Watter soort gemeenskappe kom so tot stand? Ons dink hierdie komende week hieroor na.

 

Sorry, the comment form is closed at this time.