Boodskap vir die week
Preekskets: Jeremia 1
Marc Chagall: “Die profeet Jeremia”
Die spreekwoord lui “Uit die mond van die suigeling sal jy die waarheid hoor”. Hoewel nie meer ‘n suigeling nie, was Jeremia besonder jonk toe die Here hom as profeet roep. Die woord wat gebruik word, word dikwels gebruik van ‘n seun jonger as tien. As Jeremia geweet het watter uitdagende bediening op hom wag, het hy hierdie roeping dalk nog heftiger teengestaan as wat hy reeds in hoofstuk 1 doen.
Die opdrag in vers 10, dat hy moet afbreek en uitroei, vernietig en plat slaan, is immers nooit ‘n boodskap wat mense wil hoor nie. Hierdie stroping van dit wat verkeerd is in God se verbondsvolk word wel gevolg deur “bou en vestig”. Dit herinner aan ‘n professor wat gesê het “God se woord kneus om te genees”: Partykeer moet God dinge uit ons lewe verwyder, al is dit pynlik, juis sodat daar beter opbou kan wees. Die swaar vir Jeremia was dat hy minder van hierdie “bou en vestig” sou ervaar. Sy verhaal ondergrawe uitbeeldings van die geloofslewe as net “maanskyn en rose” en die versoeking om te vinnig te spring van die afbreek proses na die opbou proses.
Ten spyte daarvan het Jeremia ‘n diep verbintenis met die volk behou en bly treur oor hulle sonder om die rug op hulle te draai. Ons vind eeue later eggos daarvan in Jesus se eie verhaal: Hy word self deur sy mense verwerp, maar ons hoor ook hoe Hy oor Jerusalem treur.
Die boodskap wat Jeremia moes bring was ‘n dringende een. ‘n Paar keer in hoofstuk 1 vind ons die woord “vandag”. Dit moet nie net verstaan word as ‘n historiese merker nie, maar as ‘n oomblik van beslissing: God se woord kom nou na ons en ons moet daarop reageer.
Sorry, the comment form is closed at this time.