Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

Lukas 7:20
“Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?” Is die een wat hierdie vraag vra dan nie die een wie se pa stom geword het voor sy geboorte nie? Hy is dan nie die een wat voor Jesus se bediening begin het, geprofeteer het dat die Messias oppad is nie? Is hy dan nie die een wat vir Jesus gedoop het nie? Het Hy dan nie die stem gehoor en Gees wat neerdaal soos ‘n duif nie? Kan dit Johannes die Doper wees wat so ‘n vraag vra? Hoe kan hy so ‘n vraag vra? Kan geloof so, soos mis voor die son verdwyn? Kan twyfel so die oorhand kry?
Dalk was Johannes se vervolging vir hom te veel. Dalk was die gesit in die tronk die laaste strooi. Dalk was die Doper ontnugter deur Jesus se andersheid. Dalk het hy ook ‘n kragdadige Messias verwag. Dalk het hy ook bly vashou aan die wet. Hy was immers die een wat mense gedoop het wat hulle oortredinge van die Wet bely het. Dalk was hy ook wetties en het Jesus se nabye verhoudings met sondaars hom ook tot ongeloof gedryf. Dalk is dit nou maar net so dat mense nie heeltemal tevrede is met ‘n genadige Jesus nie. Dalk is dit die rede waarom Jesus vir Johannes laat weet: “Gelukkig is elkeen wat nie van my aanstoot neem nie.” Dalk moet ons ook vir onsself afvra of ons nog gelukkig is met die Jesus wat toelaat dat ons swaarky en wat met die randfigure van die samelewing assosieer. Miskien is dit waarom ons ook soms nie só opgewonde is oor Hom nie.
Dit is een van die dae Kersfees. Ons sal die fees entoesiasties kan vier as ons opnuut opgewonde is oor die Een wat gekom het.

Sorry, the comment form is closed at this time.