Boodskap vir die week
Soms, soos nou, lyk die skepping vir ons weereens “woes en leeg”. Ons hoef nie lank te dink nie: Covid, armoede, optogte en stropery. In die afgelope twee jaar is ons, en eintlik die hele wêreld, ook gestroop van soveel aspekte van ons lewens:
mense, verhoudings, werke, sekerheid, toekomsdrome. Jy kan vir ‘n oomblik sit en net aan jou eie lewe dink.
Dit is egter nie die volle verhaal nie, daar is meer aan ons
lewens as dit wat ons verloor het. Ons hou Kerssangdiens met die gestrooptheid van die afgelope paar jaar in gedagte – nie omdat ons op Kerssangdiens rou nie, maar omdat ons op Kerssangdiens juis die hoop vir tye van gestrooptheid vier. In die vaalheid en chaos van gestrooptheid loop ons ons vas in die eenvoud van die Kind in die krip.
Ons begin die diens by die oorsprong van alles, die Skepper en sy skeppingsdade, en ons sien hoe die Kind in die skepping pas en hoe Hy ons tot sy kinders kom maak het. Met musiek en woorde reis ons deur die Skepper se skeppingsdade totdat ons die Kersverhaal vertel as kinders van die Kind. Hierdie Skepper het homself mens gemaak in die Kind van Kersfees, sodat ons Sy kinders kan wees in hierdie skepping.
Sorry, the comment form is closed at this time.