Title Image

Boodskap vir die week

Boodskap vir die week

Eksodus 3:1-4:18

Nadat Moses die Here se aanvanklike plan verydel het en weggeloop het, sien ons hier dat die Here hom nie so maklik laat wegkom nie. Op ‘n dag, by ‘n brandende doringbos, keer die Here Moses weer aan en bring hom terug na Egipte.

 

Die Here roep Moses en gee aan hom ‘n opdrag. Moses deins egter terug. Hy besef dat dit ‘n groot opdrag is en was moontlik bang dat hy nie sou kon doen wat van hom verwag word nie. Daarom kom hy met die een na die ander verskoning vorendag.

 

Maar die Here luister geduldig na elke vraag en beswaar van Moses. In 3:11 vra Moses: “Wie is ek, dat ek na die Farao kan gaan en dat ek die Israeliete uit Egipte kan lei?” In vers 12 hoor ons dan God se antwoord: “Ek is immers by jou …” Die Here verwag nie dat Moses alleen gaan en alles op sy eie doen nie. Die Here beloof om sélf saam met Hom te gaan.

 

Dan kom die tweede vraag. As die Here beloof om by Moses te wees, waag hy dit om versigtig te vra: “Kyk, as ek by die Israeliete kom en … hulle vra my dan, ‘Wat is sy naam?’ wat moet ek vir hulle sê?’’ Moses vra hiermee die vraag na die hart en wese van God. Wie is God? Hoe is God?

 

In 3:14 hoor ons die Here se antwoord aan Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israelite sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.” In hierdie Naam is daar veral twee betekeniselemente wat ons moet raaksien:

 

  • God openbaar Hom hier as die lewende God, die Een wat skep, wat doen – die Almagtige.
  • God openbaar Hom ook as die God wat altyd daar sal wees vir sy volk, wat sy volk sal vergesel.

 

In die Nuwe Testament hoor ons hierdie selfde boodskap as Jesus in Matteus 28:20 sy Immanuel-Naam gestand doen en vir sy dissipels sê dat Hy met hulle sal wees al die dae tot die voleinding van die wêreld. God is God by die mense. Hy is hier by ons teen die einde van ‘n jaar wat veeleisende uitdagings in talle gestaltes opgelewer het. Hy het die woestynreisigers wat Egipte verlaat het vegesel, soos Hy beloof het. Soms het hulle klein en ongelowig oor Hom gedink, maar keer op keer het Hy hulle verras met die grootsheid van sy genade. En Hy is steeds teenwoordig – óók teen die einde van 2021.

 

Sorry, the comment form is closed at this time.