Boodskap vir die Week
Preekskets: Psalm 100
Psalm 100 is kort, maar kragtig. In ons Psalmboek is dit een van die Psalms wat meer gereeld gesing word en sy melodie word vir verskeie ander liedere ook gebruik. Die opskrif “’n Dankpsalm” som mooi die hele Psalm op: Dit is in geheel gerig daarop dat die volk feestelik hulle dankbaarheid tenoor God kan betuig. Soos vers 4 sê “Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys sy Naam …”.
As die Psalm gelees word kan die vraag egter gevra word – kan jy iemand beveel om dankbaar te wees? Kan dankbaarheid so “forseer” word? Is dit dan nog dankbaarheid?
Hoewel dit dalk ‘n geldige vraag sou wees wat betref denke oor dankbaarheid in die algemeen, is dit op die ou end nie hier van toepassing nie. Want die oproep tot dankbaarheid in Psalm 100 is nie iets wat sonder gronde afgedruk word op die volk nie, dit is eerder ‘n aanmoediging om uiting te gee aan iets wat reeds van binne ontwikkel. Die oproep tot dankbaarheid in die Psalm is gegrond op die goeie persoon en dade van God, dade wat die lede van die volk persoonlik kon ervaar: Hulle het ervaar hoe God hulle gemaak het, hoe Hy hulle as sy eie volk en kudde gevorm het. Hulle het beleef dat sy liefde geen einde het nie en sy trou van geslag tot geslag duur. En uit hierdie ervaring van God se goedheid is dankbaarheid eintlik die spontane gevolg. Die oproep in die Psalm om dankbaarheid te toon is op die end dus amper net verdere aanmoediging, ‘n toestemming om vrye teuels te gee aan die opborreling van dankbare vreugde in elkeen se binneste.
Ons word vandag ook opgeroep tot dankbaarheid, om ons stemme te voeg by die van die sangers. En die beste manier om dit te doen is om self weer geanker te word in die asemrowende goedheid en liefde van God. Want dan sal ons besef – hoe kan ons anders as te juig, te jubel en God met blydskap te dien?
Sorry, the comment form is closed at this time.