Title Image

Boodskap Sondag 3 Februarie

Boodskap Sondag 3 Februarie

Week 2 – Die Goeie Nuus vir almal
Skriflesing:
Rut 1:16-17; 2:10-13; 3:7-13; 4:13-17

Verlede week het ons nagedink oor die liefde van Christus wat ons dring. Ons ontvang Jesus se liefde en dit vloei deur ons na ander. Hierdie week kyk ons na aanleiding van Rut se verhaal hoe ontmoetings met ander plaasvind en wie die mense is na wie ons die liefde van Christus moet laat vloei. Wat leer die Rutverhaal ons oor ontmoetings met ander mense?

1. God werk deur die alledaagse lewe God werk nie noodwendig deur opspraakwekkende gebeure in ons lewe nie. Hy laat geld Sy leiding op onsigbare en onopvallende maniere in die gewone, alledaagse lewe. Ons sien in die verhaal van Rut geen bonatuurlike gebeurtenisse nie – net die werk van mense soos Naomi, Rut, Orpa, Boas en die ander losser. Dit gaan hier om die doodgewone, alledaagse lewe waarin godsdienstige beginsels uitgeleef word. Hierdie verhaal wys ook vir ons dat die Here, wanneer ons met ons alledaagse werksaamhede aangaan, ongemerk besig is om in ons lewe te werk. Later kom ons agter dat dit die hand van God was wat agter doodgewone gebeurtenisse werksaam was.

2. Ons is God se medewerkers Die Here gebruik mense in Sy werk. Mense wat vir ander mense omgee en mense wat bloot hul plig doen, is mense vir wie God inspan om Sy wil met ander mense te laat gebeur. Dit maak nie saak hoe gering jy is nie (Rut), die Here kan jou gebruik. Dit maak nie saak hoe vernaam en geëerd jy is nie (Boas), die Here gebruik jou selfs sonder dat jy dit besef. Die karakters in die verhaal is wakker mense wat planne maak en moontlikhede raaksien. Hulle is bereid om vir ander mense op te offer en hulle las saam met hulle te dra. Iets van God se chesed (getroue goedhartigheid) word ‘n werklikheid in ander mense se lewe deur ons betrokkenheid by hulle.

3. Die deurslaggewende rol van liefde en trou God kan liefde en trou (chesed) wat in mense se harte leef en in hulle optrede na vore kom op wonderlike maniere gebruik. Omdat Rut vir Naomi liefgehad het, het sy getrou gebly aan Naomi en haar liefde op ‘n tasbare manier gewys. Ook Boas se optrede word deur liefde en trou gekenmerk. Hy het alles in sy vermoë gedoen om die lot van Naomi en Rut te verander. Hierdie optrede wat van liefde en trou getuig, werk mee tot die geboorte van Koning Dawid.

4. God sluit verworpenes in én gebruik hulle Die Moabitiese vrou Rut speel ‘n deurslaggewende rol in hierdie verhaal – ook in die verdere verloop van die heilsgeskiedenis. Rut word ‘n belangrike skakel in die ketting wat uitloop op die geboorte van Jesus Christus. Dit is merkwaardig as ons in gedagte hou dat die Moabiete volgens Deuteronomium 23:3 van die geloofsgemeenskap uitgesluit is. Deur hierdie verhaal skep God ruimte vir nie-Israeliete om deel van sy volk te word. Deur Rut as Dawid se grootjie te beskryf, sê hierdie verhaal dat selfs ‘n verworpene ‘n lotsbepalende rol in God se groot verhaal kan speel.

Ds Heerden van Niekerk

Sorry, the comment form is closed at this time.