Boodskap 3 Maart 2019
Sondag van Verheerliking
Vandag is Sondag van verheerliking. Dit is die oorgang van Epifanie na Lydenstyd. Dit fokus op die verheerlikte Christus aan die begin van sy lydensweg. Eerskomende Woensdag is Aswoensdag wat die begin van die lydenstyd is.
Die dag verwys natuurlik na die gebeure wat o.a. in Markus 9 beskryf word toe Jesus vir Petrus, Johannes en Jakobus saam met Hom na ‘n hoë berg geneem het waar hulle heeltemal alleen was. In Engelse Bybels is die opskrif van die verhaal, Transfiguration, wat ook beteken om van gedaante te verwissel. Die Afrikaanse “verheerliking” dra nie dieselfde krag nie. Jesus verander dan van gedaante wanneer Moses en Elia aan hulle verskyn.
Petrus kan dit wat hy sien net vertolk in terme van sy eie verwysingsraamwerk. Dit is immers buite die reikwydte van sy verstaan. Hy sê hulle moet drie hutte bou- vir Jesus en Moses en Elia. Dit is regtig onsinnig. Maar Petrus verteenwoordig ons almal waarskynlik baie goed. Wie sou nou iets sinvol kon sê by die aanskoue van hierdie vreemde verskynsel.
Tog is hierdie ‘n baie belangrike gebeurtenis om aan te dui dat Jesus toegang het tot die hemel. Hemel en aarde raak as’t ware hier aan mekaar en Jesus is die brugfiguur. En natuurlik is die “hoe” hiervan menslik onverstaanbaar. Dit is egter belangrik dát Jesus mense hier bekendstel aan die hemelse. Die verheerliking is wanneer die lense van my bril skoongemaak word en ek die wêreld sien soos dit werklik is: oneindig. Dit is nie ‘n natuurlike “sien” nie. Dit is ‘n bonatuurlike kyk.
Dit is ook belangrik om te weet dat wanneer mense die hemelse ervaar, hulle daardeur verander word. Die woord hier in Grieks beteken Jesus het ‘n metamorfose ondergaan. Mense wat in die sfeer van die ewigheid kontak maak, ondergaan ook ‘n metamorfose. Kyk nou maar hoe het Moses se gesig geblink toe Hy van die berg af kom nadat hy God se agterkant gesien het. Daarom is die geheim van die erheerliking op die berg om self ‘verheerlik’ of verander te word deur die verhaal. Die vraag is of ons ook ‘n metamorfose ondergaan met die kennis en ervaring van die opstanding en die ewigheid en die wonder daarvan dat ons daarvan deel gaan word? Wat doen dié voorkennis van die ewige aan ons? Om vandag deur die verhaal van die verheerliking op die berg getransformeer te word, beteken dat dieselfde vraag aan ons gevra word, wat implisiet in die Markusevangelie aan die dissipels gestel is: Sal hulle kan leef vanuit die Nuwe Skepping? Want vergestalt in Jesus is die verheerliking op die berg as teken van die inbreek van die Nuwe Skepping (2 Kor. 5:17), ‘n belofte of voorskou van ‘n getransformeerde (transfigured) wêreld.
Die teks het ‘n performatiewe funksie (performing function). Dit beteken die teks wil ons nie iets laat weet nie, maar iets met ons laat gebeur. Laat ons dus vandag bid dat God vir ons ander oë sal gee, sodat ons sal sien en verander sal word.
Ds Nelis Janse van Rensburg
Sorry, the comment form is closed at this time.