Title Image

Boodskap 24 Maart 2019

Boodskap 24 Maart 2019

Boodskap vir vandag!
Ons gebruik graag die woordfrase “Wat geld nie kan koop nie” en verwys dan gewoonlik na goedgunstigheid en waardes soos ware omgee, deernis, vriendskap, lojaliteit, diens, eerlikheid, liefde, vrede en vreugde. Dis ‘n verwysing na wat waarlik die lewe mooier, gesonder en beter kan maak.
Jesaja 55 is ‘n uitnodiging na ware lewe! ‘n Uitnodiging wat jou soekend roep!
Kom, kom na My! Ek nooi jou!
Kom, kom drink water!
Kom, kom kry water verniet!
Kom, kom koop nog meer, brood, melk, wyn!
Kom, kom koop sonder geld!
Kom, kom dit is regtig gratis!
Kom, kom vind dit wat jou versadig sal maak!
Kom, kom ontvang ‘n genade-geskenk!
Hierdie uitnodiging is aan mense wat in ‘n omgewing van wanhoop lewe en wonder – na alles wat ons/ek verloor het, waaraan kan ons/ek vashou en wat sal ons herstel en help om vervullend te kan lewe? Ten diepste is dit ‘n worsteling met vrae oor identiteit, broosheid, lewensin, lewensdoel, lewensroeping en lewenshoop.
Vir Jesaja is die die verskil tussen wanhoop en hoop, ‘n ewige verbondsverhouding met God. Die profeet roep mense om versadig te word, om lewe te ontvang en verras te word, want God se paaie is altyd groter as wat ons dink.
Die uitnodiging kom eintlik van God wat ons nooi om in ‘n verhouding met Hom te staan. God wat ons wil vul met Sy genade, vergifnis, herstel, krag, liefde en lewe. God wat jou kan versadig maak om gesond te kan leef, nie net vir jouself nie, maar juis binne in ‘n gemeenskap van mense.
Hierdie geskenk is gratis en verniet, wat ten volle aangebied word aan enige persoon wat bereid is om te luister. Die geskenk word nie gekoppel aan jou status, verdienste, gewildheid of agtergrond nie, maar om te kan luister na God se uitnodiging. Ons almal is broos en het water en kos nodig om te kan lewe. Jesaja sê, wees versigtig vir die ander smouse in die wêreld, moenie na hul luister, luister eerder na God.
Jesus nooi ons ook: Kom na My toe, almal wat moeg en oorlaai is en Ek sal julle rus gee (Matteus 11). Jesus nooi ons om te kom aansit by die groot maaltyd en te kom saameet, selfs al het jy nie veel nie (Lukas 14). Jesus nooi ons om saam met Hom te bou aan ‘n nuwe koninkryk wat waardes soos afhanklikheid, geloof, barmhartigheid, omgee, sagmoedigheid, geregtigheid, vrede, vergifnis, liefde en hoop uitleef (Matteus 5, 6). Dis ‘n uitnodiging tot ‘n lewe met sin, doel… ‘n roeping!
Die fliek Dominee Tienie wat onlangs in flieks gedraai het, het baie mense aangeraak want dit wys juis daarop dat mens soms in ‘n hoek vasgekeer kan word. Dat al die baie dinge en mense wat jou aandag vereis kan veroorsaak dat jy nie waarlik aandag gee, luister na dit wat regtig van waarde is nie. Dominee Tienie het sy gesin verwaarloos en nie meer sy eie passie en roeping gevolg nie. Totdat ‘n hawelose wat vroeër by hom geestelike hulp gesoek het by die kerkdeur sterf. Uit hierdie mislukking word nuwe lewe gebore. Sy roeping word herontdek en mense uit verskillende hoeke en kante van die samelewing word bymekaar gebring om saam te eet, ja water, kos en soveel meer! Hoop word ontdek, geskep, gelewe.

Ds Karlien van Wyk

Sorry, the comment form is closed at this time.