Title Image

Boodskap 24 Februarie 2019

Boodskap 24 Februarie 2019

Vier die Goeie Nuus

Die gelykenis in Lukas 14:15-24 beeld vir ons die kern van God se bedoeling met die mensdom as ‘n groot maaltyd uit.

Die tema van die maaltyd kom op talle plekke in die Bybel voor. Jesaja skets die aanbreek van die Messiaanse era soos volg: “Op hierdie berg gaan die Here die Almagtige ‘n feesmaal gereed maak vir al die volke, ‘n feesmaal met die beste om te eet en te drink, goeie kos en
geurige wyn” (Jes. 25:6). In Openbaring word dié feesmaal tot ‘n hoogtepunt gevoer wanneer die
bruilofsmaal van die Lam met volle feestelikheid gevier word (19:5-9).

God neem die inisiatief. Hy berei die koninklike maaltyd voor. Hy wil hê dat ons sy gaste moet wees. Hy wil vrolike mense om Hom hê. Hy bring die verskeurdes bymekaar en verbind die mensdom op ‘n nuwe wyse aan mekaar. Die saamsit aan die tafel is opsigself ‘n belydenis dat die tafelgenote mekaar gevind het. Daar is wedersydse vergifnis en vrede. Die feesvierendes is vrolik en innig dankbaar, want verlorenes en vervreemdes het nou weer tuisgekom as ‘n familie, God se familie.

Ons as geloofsgemeenskap moet ‘n voorsmaak bied van die fees wat God met die mensdom beoog. In ‘n wêreld wat verskeur is, kan die kerk feesvierend voorgaan in die vreugde van God se tafelgemeenskap. Dat die kerk hierdie rol in die wêreld speel, is egter nie vanselfsprekend nie, want reeds vroeg in die gelykenis hoor ons dat die genooides met allerhande verskonings die uitnodiging na God se fees afwys.

Hulle voer die een na die ander verskoning aan. En dit is nie slegte verskonings nie. Om na jou nuwe stuk grond te gaan kyk, of die osse te toets of om traag te wees om jou bruid alleen by die huis te los klink na aanvaarbare verskonings. Hierdie mense is so vasgevang in die roetine van die alledaagse lewe dat hulle nie tyd kan inruim om die fees by te woon nie. Hulle het waarskynlik die verlange en honger ervaar om die vreugde van hierdie fees te geniet.

Maar nou dat die geleentheid daar is, sê hulle nee. Waarom? Is dit dalk dat hul gepantserde lewensstyl (ek het genoeg, en ek het ander nie
regtig nodig nie) hulle ongeërg maak oor die uitnodiging wat aan hulle gerig is.

Om nee te sê op God se uitnodiging na sy fees kwets sy liefde, maar Hy stel die fees nie af nie. Daarvan getuig die tweede wending in die
gelykenis: “Toe word die man kwaad en sê vir sy slaaf: ‘Gaan uit na die strate en gangetjies van die stad en bring die armes en kreupeles en blindes en verlamdes hierheen.’ Later kom die slaaf sê: ‘meneer, u opdrag is uitgevoer, en daar is nog plek.’ Toe sê die man vir die slaaf: ‘Gaan uit na die paaie en lanings en dring by hulle daarop aan om in te kom, sodat my huis vol kan word.’ ” (14: 21-23)

Só iets is destyds net nie gedoen nie. En tog doen die gasheer dit. Vreemd, maar die Goeie Nuus is vir álmal.

Kyk net hoe die Koning dit doen. Hoe Hy lok en nooi en brood en wyn uitdeel. Kyk, daar is rede om fees te vier. Smaaklike ete!

Ds Heerden van Niekerk

Sorry, the comment form is closed at this time.