Title Image

Boodskap 21 Oktober 2018

Boodskap 21 Oktober 2018

Psalm 55
Die lewe bied allerhande uitdagings. Dikwels is dit geleenthede tot groei en ontwikkeling. Dit gebeur egter ook dat daar tye is wat dit voel asof dinge te veel raak. Wanneer dit gebeur, reageer mense op verskillende maniere.
 
Dit lyk asof dinge op ‘n stadium ook te veel geraak het vir die digter van Psalm 55. Hy ervaar druk en vyandskap teenoor hom (v2-6), maar hy sien ook soveel wanorde om hom raak dat dit hom
heeltemal onder kry (v10-12). Maar die ergste van alles is dat hy verraai is deur iemand na aan hom (v13-15), dat die persoon dalk selfs op die ou end as vyand beleef word (v21-22). Iemand met wie hy kon deel en wat moontlik hom sou kon help om die druk,
swaarkry en probleme wat hy ervaar te dra en verwerk, is nou juis ook een van die grootste bronne van sy leed.
 
Dit maak dat hy op een of ander manier net wou wegkom van alles – dat hy soos ‘n duif wou wegvlieg en gaan wegkruip in die woestyn waar hy nie meer te doen sou hê met al hierdie probleme nie
(v7-9). Dat hy alles net so wil los en iewers anders veiligheid en geborgenheid gaan soek. Dat hy ontvlug na iets anders. Dalk soos van ons ook partykeer, wanneer dinge te veel voel, op maniere ontvlug.
 
Die ontvlugtingstaktiek bied egter nie ‘n oplossing nie en die digter vind dat hy ware geborgenheid, veiligheid en hulp by die Here self vind. Dit kom deur ‘n proses van deurlopende (v18) en bitter
eerlike gesprek waar die digter uiting aan sy emosies en gevoelens kan gee op weg daarna om weer te kan ervaar en te kan bely “Laat jou sorge aan die Here oor, Hy sal vir jou sorg”. Hy kan homself weer aan daardie sorg oor gee (v24). Die digter besef uiteindelik – hy moet nie na ‘n plek vlug nie, maar na ‘n Persoon.

Ds. Wouter van Velden

Sorry, the comment form is closed at this time.