Boodskap 10 Maart 2019
#KLEIN DINGETJIES
Dink net hoe totaal anders en ’n totaal ander plek sal die wêreld wees: #as elke kind van God net sy deeltjie doen, #as ek hoop kan gee, #as ek vir mense kan sê: ‘Moenie bekommerd wees nie – daar is beter dae oppad’ #as ek vir mense kan sê: ‘Kom stap saam met my! Kom soek saam met my! Kom deel saam met my! Kom wees net saam met my!’. Hoe gee ek vir hulle hoop vir 2019? Hoe help ek hulle? Hoe maak ek ’n verskil aan hulle omstandighede? Een mens mag tog nie sonder die liefde van Jesus wees nie. Dit kan/mag tog nie so wees nie! God se liefde is immers soos ’n reënboog waarvan ons die einde nooit sal kry nie. Omdat Sy liefde geen einde het nie; omdat dit ’n almal-liefde is; omdat dit ‘n liefde is wat met almal gedeel moet word; omdat dit ’n liefde is wat met iemand ‘raak geleef/raak gekyk’ moet word.
Paulus sê in Gal. 6: 1-10: ‘Dis eintlik baie maklik. Julle hoef nie so ver te gaan soek nie. Julle hoef nie veel te doen nie!’ Vir die kind van God wat sy kant bring en sy deeltjie doen is dit eintlik baie eenvoudig. Vers 2: “Sien raak wanneer ander gelowiges swaarkry en help hulle.” Net dit, geen groot geloofsverklarings nie. Geen groot en slim teorieë nie. Geen groot planne nie! Nee! Net dit: SIEN RAAK! KYK RAAK! EN HELP!
Dit beteken: #IN DIE KLEIN DINGETJIES. Maak net jou oë oop. Haal die bril van jou oë af wat keer dat jy mense in nood raaksien. Kyk rondom jou of jy êrens nood raaksien. Gaan hurk ’n slag by hulle! Tel hulle probleme op jou skouers en dra dit vir hulle. Lig die swaar las van hulle skouers af en dra dit vir ’n tydjie … al is dit net vir ’n entjie of vir ’n paar tree. Dit beteken:
● Raak betrokke
● Leef raak
● Kyk raak
● Gee om
● Vra bietjie – Wat het jy nodig? Waarmee kan ek help?
● Sien ’n slag regtig raak!
Is dit altyd maklik? Verseker nie, maar dit is altyd die moeite werd. Dis immers wat die Here van ons verwag! Paulus sê: ‘Bly kalm – en help net!’
❶ As jy sien, doen iets. Daar en dan!
❷ As jy hoor, help. Daar en dan!
❸ As jy sien, dra. Daar en dan! Vers 2: Tel hulle probleme op julle skouers en dra dit vir hulle! Gaan LEEF hierdie LIEFDE van Jesus RAAK met IEMAND!
“Kindness is not an act! It’s a lifestyle!” Raak-Leef ’n lewenswyse! “Happiness is made by little things!”
Ds Thinus van Vuuren (NGK Ruyterwacht)
Sorry, the comment form is closed at this time.