Opsoek na nuutheid
Geseënde nuwe jaar, of geseënde 2022. Dit is woorde wat jy onlangs waarskynlik baie gehoor het. Maar wat is regtig nuut aan die nuwe jaar? Daar word gepraat van 2022 as Twenty Twenty Too. Net nog ‘n jaar soos die vorige jaar en die vorige jaar.
Die Hollandse teoloog JP Versteeg vra ook die vraag: Wat is nou so watswonders aan die nuwe jaar. Daar verander tog niks van die laaste dag van die een jaar na die eerste dag van die volgende jaar nie.
In Nehemia 8 lees ons dat die volk teruggekom het na hulle 70-jaar ballingskap na hulle land en stad. Alles in hulle lewe is aan die verander, alles is nuut, maar niks is nuut nie. Dit is trouens net so sleg soos toe hulle dit verlaat het, of selfs slegter. Wat is nuut?
Om iets nuuts te ontvang skep verwagtinge van iets wat nog nooit gesien of beleef is nie. Iets wat jy vir die eerste keer van hoor of nog nooit besit het nie is nuut. So, wat beteken dit dat die jaar nuut is? Daar is immers steeds mense wat Covid kry en baie siek word. Daar is steeds werkloosheid en armoede in ons land. Daar is steeds korrupsie en wanbestuur. Daar is steeds siekte en nood en dood.
In 2 Korintiërs 5 lees ons van nuut wees. Daar staan: “Iemand wat aan Christus behoort is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God.” Hier word gepraat van ware nuutheid wat wink. Maar ons sou weer kon sê: Wat is nuut? Ons het al baie van Christus gehoor. Ons het al baie keer onsself opnuut aan Christus gewy. Wat aan Christus gaan dinge nuut maak? Oor die moontlikhede met Christus sal ons egter weer moet dink. Alles kan nuut word met Hom. Ons verwag nie van nuutheid nuwwigheid nie. Ons verwag iets wat ‘n blywende vernuwende effek kan hê. In Opnbaring 21:5 staan geskryf: “Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.”
Sorry, the comment form is closed at this time.