Boodskap vir die week

Boodskap 10 Februarie 2019

Jesus sien ‘n Siro-Fenisiese vrou raak en het empatie en deernis bewys (Markus 7).

Wie het jy die afgelope tyd gesien wat deernis by jou wakker gemaak het? (PATOS)

Ons leef in ‘n gebroke en gepantserde wêreld. Ons word geroep om die goeie nuus van Jesus binne-in ons alledaagse wêreld te vertel. Die boodskap van versoening, heelheid, vrede en genade en van geloof, liefde en hoop word aan ons toevertrou. Ons verbale en nie-verbale woorde en gedrag is ‘n getuienis van wat ons glo, wie ons is en beïnvloed ons naaste. Wat is die onvoorwaardelike Goeie Nuus van Kolossense 1:3-5 en 4:2-6 vir jou en vir jou naaste? (LOGOS)

· Geloof, Liefde en Hoop is teenwoordig en gee nuwe lewe.
· Volhard in gebed. BID, BID, BID.
· Bid en vertel van die Woord. VERTEL.
· Tree met wysheid en onderskeiding op.
· Koop die tyd / maak die beste gebruik van elke geleentheid.
· Wees vriendelik. VRIENDELIK.
· Jou gesindheid en woorde moet van goeie smaak getuig.

Hoe kan jy saam met jou naaste die nuwe lewe in Christus ontgin? (ETOS)
Wees ‘n teenswoordige teken van die opstanding, nuwe lewe, geloof, liefde en hoop.

Vandag is Biddag vir onderwys. Kom ons bid vir ons skole, skoolhoofde, onderwysers en opvoedkundige instellings, dat dit lewe en hoop sal gee.

Ds Karlien van Wyk

Did you like this? Share it:

Boodskap Sondag 3 Februarie

Week 2 – Die Goeie Nuus vir almal
Skriflesing:
Rut 1:16-17; 2:10-13; 3:7-13; 4:13-17

Verlede week het ons nagedink oor die liefde van Christus wat ons dring. Ons ontvang Jesus se liefde en dit vloei deur ons na ander. Hierdie week kyk ons na aanleiding van Rut se verhaal hoe ontmoetings met ander plaasvind en wie die mense is na wie ons die liefde van Christus moet laat vloei. Wat leer die Rutverhaal ons oor ontmoetings met ander mense?

1. God werk deur die alledaagse lewe God werk nie noodwendig deur opspraakwekkende gebeure in ons lewe nie. Hy laat geld Sy leiding op onsigbare en onopvallende maniere in die gewone, alledaagse lewe. Ons sien in die verhaal van Rut geen bonatuurlike gebeurtenisse nie – net die werk van mense soos Naomi, Rut, Orpa, Boas en die ander losser. Dit gaan hier om die doodgewone, alledaagse lewe waarin godsdienstige beginsels uitgeleef word. Hierdie verhaal wys ook vir ons dat die Here, wanneer ons met ons alledaagse werksaamhede aangaan, ongemerk besig is om in ons lewe te werk. Later kom ons agter dat dit die hand van God was wat agter doodgewone gebeurtenisse werksaam was.

2. Ons is God se medewerkers Die Here gebruik mense in Sy werk. Mense wat vir ander mense omgee en mense wat bloot hul plig doen, is mense vir wie God inspan om Sy wil met ander mense te laat gebeur. Dit maak nie saak hoe gering jy is nie (Rut), die Here kan jou gebruik. Dit maak nie saak hoe vernaam en geëerd jy is nie (Boas), die Here gebruik jou selfs sonder dat jy dit besef. Die karakters in die verhaal is wakker mense wat planne maak en moontlikhede raaksien. Hulle is bereid om vir ander mense op te offer en hulle las saam met hulle te dra. Iets van God se chesed (getroue goedhartigheid) word ‘n werklikheid in ander mense se lewe deur ons betrokkenheid by hulle.

3. Die deurslaggewende rol van liefde en trou God kan liefde en trou (chesed) wat in mense se harte leef en in hulle optrede na vore kom op wonderlike maniere gebruik. Omdat Rut vir Naomi liefgehad het, het sy getrou gebly aan Naomi en haar liefde op ‘n tasbare manier gewys. Ook Boas se optrede word deur liefde en trou gekenmerk. Hy het alles in sy vermoë gedoen om die lot van Naomi en Rut te verander. Hierdie optrede wat van liefde en trou getuig, werk mee tot die geboorte van Koning Dawid.

4. God sluit verworpenes in én gebruik hulle Die Moabitiese vrou Rut speel ‘n deurslaggewende rol in hierdie verhaal – ook in die verdere verloop van die heilsgeskiedenis. Rut word ‘n belangrike skakel in die ketting wat uitloop op die geboorte van Jesus Christus. Dit is merkwaardig as ons in gedagte hou dat die Moabiete volgens Deuteronomium 23:3 van die geloofsgemeenskap uitgesluit is. Deur hierdie verhaal skep God ruimte vir nie-Israeliete om deel van sy volk te word. Deur Rut as Dawid se grootjie te beskryf, sê hierdie verhaal dat selfs ‘n verworpene ‘n lotsbepalende rol in God se groot verhaal kan speel.

Ds Heerden van Niekerk

Did you like this? Share it:

Boodskap 27 Januarie 2019

Week 1
Die Goeie Nuus dring ons
Lees 2 Korintiërs 5:11-21.
14Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig
gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. 15En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is. 16Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie. 17Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.
– 2 Korintiërs 5:14-17

Ds Nelis Janse van Rensburg

Did you like this? Share it:

Boodskap 20 Januarie 2019

Lukas 5:1-11
In hoofstuk 4 lees ons hoe die mense in Nasaret, Jesus se eie tuisdorp, Hom verdryf omdat hulle nie van sy boodskap hou nie. Hy keer terug na Kapernaum en van daar preek Hy onder andere ook langs die Gennesaretmeer (die see van Galilea). Anders as die mense van sy tuisdorp, is die mense gretig om God se woord te hoor.

Die verkondiging van die evangelie is ook uiteindelik waartoe Petrus geroep word as hy aan die einde van die verhaal hoor dat en die ander by hom “vissers van mense” sal word.

Tussenin gebeur daar egter eers ‘n paar goed met hom, beginnend by Jesus wat in sy boot klim. Die aanrypende van hierdie stap van Jesus is hoe Hy die inisiatief neem en bereid is om Petrus se eefwêreld te betreë, in sy werksomgewing en sy elke dag se “handel en wandel” betrokke te raak sodat sy boodskap uiteindelik tot by Petrus kan kom. Vir ons, wat ook geroep word om vissers van mense te wees, is dit ‘n herinnering daaraan om mense in hulle omgewing te ontmoet.

Petrus weet al immers iets van Jesus – Jesus het pas sy skoonma genees (4:38-41) – maar hy volg Hom nog nie. En hoewel sy aanspreek van Jesus as “Meneer” (nog beter vertaal – “Meester”) in vers 5 dui op respek vir Jesus en die erkenning dat Jesus belangrik is en geag moet word, is dit nog nie die erkenning van Jesus se persoon en gesag wat ons in vers 8 vind wanneer Petrus Jesus as “Here” aanspreek nie.

Die keerpunt hiervoor kom met die wonderwerk wat Jesus verrig rondom die groot hoeveelheid vis. Dit maak dat Petrus gelyk besef wie Jesus is, maar dan dadelik ook bewus word van sy eie sondigheid voor Hom. Jesus se woorde is egter vol genade en liefde: Die frase “moenie bang wees nie” dui ook op vergifnis. En dan roep Hy Petrus tot nuwe diens.

En so ook met ons: Ons is ook maar sondig en vol gebreke, nie geskik vir dit wat ons moet doen nie, maar tog roep die Here in sy genade en liefde vir ons en sê ook vir ons “Moenie bang wees nie – van nou af sal julle mense vang”.

Ds Wouter van Velden

Did you like this? Share it:

Boodskap 13 Januarie 2019

Matteus 13:1-9; 18-23

Dit is altyd wonderlik om goeie nuus te hoor! Matteus 13 nooi ons om na Goeie Nuus te luister in die woorde: “wie ore het, moet luister.”

Matteus word beskryf as die evangelie van Jesus. Die woord evangelie beteken goeie of blye boodskap, dus Goeie Nuus. Die Goeie Nuus is God se liefde wat in Jesus verskyn. Die Goeie Nuus is Jesus se geboorte, Sy lewe en bediening, Sy kruisiging, Sy opstanding, Sy verskyning in ‘n opstandingsliggaam, Sy Gees wat in mense leef, Sy wederkoms. Dit is die Goeie Nuus dat Jesus die Here is en regeer wat al die verhoudings tussen God, myself, mense en die omgewing kom herstel. In Matteus se woorde, dit is die “koninkryk van die hemel”.

Jesus vertel in Matteus ‘n hele paar gelykenisse om die Goeie Nuus van die koninkryk van die hemel te verduidelik. In Matteus 13 word die gelykenis van die saaier vertel. Die saad verwys na die Goeie Nuus van Jesus en die woord van die koninkryk. Sommige verwys eerder daarna as die gelykenis van die grond wat dui op die gemengde ontvangs van Jesus/Goeie Nuus/koninkryk.

Soms val die saad op die voetpad en word deur voëls opgepik. Soms val die saad op ‘n klipperige bodem waar dit ontkiem maar nie diep wortel skiet nie en na ʼn ruk tot niks kom. Soms val die saad saam met onkruid wat later verstrik raak en geen vrug lewer. Soms val die saad op goeie grond, waar dit ontkiem, groei, vrug dra en ‘n groot oes inbring. Die oes is Goeie Nuus!

Hierdie gelykenis troos ons met Goeie Nuus maar daag ons ook uit met die Goeie Nuus. Dit vertel:

· Daar is Goeie Nuus.
· Dra die Goeie Nuus in jouself.
· Dra die Goeie Nuus na ander.

Ons is die saailand wat ook ingetrek word by die saaiproses, om self te saai. Die gelykenis bemoedig ons om nie moedeloos te word as dit nie orals ontkiem, groei of vrug dra nie. Die saaier in die gelykenis saai, dalk selfs morsig, orals, omdat dit lewe wil gee!

Ds Karlien van Wyk

Did you like this? Share it:

Volg ons op facebook:

2019 Tema & Kalender

NG Kerk Bankbesonderhede

NG Kerk Welgemoed

Absa Bank
Tjekrekening: 340 580 761
Takkode: 630 510

Ons Sosiale Platforms



Welgemoed Safe


Sluit nou aan en maak
Welgemoed veiliger vir almal

Snapscan