Boodskap vir die week

Boodskap Sondag 9 Desember

Lukas 2:8-20
Die engelekoor sing ‘n lied oor die Goeie Nuus van vrede – “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het”. Die hemel en die aarde word in hierdie lied saamgebind. God en mense word in hierdie lied saamgebind. Eer en vrede word in hierdie lied saamgebind.
Hierdie lied se boodskap word oorgedra aan herders, randfigure in die samelewing wat in die storie van God se uitreik na die wêreld ingetrek word om draers en getuies van die Goeie Nuus te wees. Hierdie lied is gesing met die geboorte van Jesus, wat die Goeie Nuus aankondig dat die verlange na ‘n vrederyk aanbreek in die koms, Persoon en optrede van Jesus Christus. In Matteus 6 leer Jesus ons om te bid: “Onse Vader wat in die hemel is, laat U naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel”. Om vir God se koninkryk te bid is om vir ‘n vrederyk te bid, dat God en mense mekaar sal ontmoet en omarm, dat mense tot God se eer sal leef en vrede en geregtigheid ‘n werklikheid sal word. Ons leef wel in ‘n gebroke wêreld waar die afwesigheid van vrede en die donkerte van geweld mens maklik wanhopig kan maak. In sulke tye moet ons die lofliedere uit die Lukas-evangelie wat Maria en Sagaria (Lukas 1) en die engele gesing het onthou en ons stemme daarby saamvoeg – Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het. Want om ‘n lied te sing en ‘n gebed te bid verander wanhoop na hoop en gee krag en lig. Die vrede wat ons voor sing en bid is omvattend. Dis om te sing en te bid dat ons as mense in ‘n gesonde verhouding met God, met onsself, met ons medemens en met die natuur sal wees. Dis om te sing en te bid vir die omvattende welwese en harmonie van God se skepping . Dis om te sing en te bid vir ‘n bekering van selfvernietigende gedrag. Dis om te sing en te bid vir liefde en vir versoening. Dis om te sing en te bid vir geregtigheid. Dis om te sing en te bid en te leef met ‘n verwagting dat Jesus en die Gees teenwoordig is en dat die volmaakte vrederyk sal aanbreek met die wederkoms van Jesus Christus. Die liedere en gebede sal dan ook van ons vredemakers maak in die voetspore van Jesus, die Vredevors.

Ds. Karlien van Wyk

Did you like this? Share it:

Boodskap vir die week 02 Desember

Skriflesing: Lukas 1: 46-56
Die engel Gabriël het die boodskap aan Maria gebring dat sy
swanger sal word en ‘n seun in die wêreld bring. Nadat Maria dié boodskap ontvang het, hef sy ‘n loflied aan. Maria sing vanuit haar konteks waarin sosiale wanorde, magsmisbruik en politieke
rampokkery aan die orde van die dag was, waarin die kloof tussen oormatige weelderigheid en matelose armoede groot gegaap het, waarin hierdie kloof deur ‘n houding van hoogmoed aan die een kant en ‘n toestand van geringheid aan die ander kant beklemtoon is. Sy sien dit alles en sing: Dis nié meer so nie. Die Here hét alles verander.

Sy kyk profeties vooruit en sien die dag wanneer hierdie pynlike paradoks finaal opgehef sal word, wanneer die leeu en die lam, die wolf en die skaap, die luiperd en die bokkie, die beer en die koei, die adders en babatjies sal saamwees (vgl. Jes. 11:6-8).

Maria sien dit alles. En so seker is sy hiervan dat sy sing dat dit reeds gebeur het! Sy sing die toekoms in die hede in! Die bewys daarvan is immers die Kindjie wat in haar skoot vorm aanneem, wat gebore sou word, aan die kruis sou sterf, op die derde dag sou opstaan uit die dood en op Pinksterdag sy Gees sou stuur as die eerste uitbetaling van die hemelse erfenis.

Dit is ‘n lied van verwondering oor die groot daad van God in
Christus, dit is tegelykertyd ‘n lofprotes teen die werklikheid.
Maria sê as’t ware : U het dit alles verander. Verander dit tog ook nou! Só ‘n Kerslied is die gevolg van God se trou. Maria besing wat God vir haar persoonlik gedoen het, maar ook aan Israel. Sy bely sy ontferming oor almal, van geslag tot geslag aan die wat Hom eer. Hy kan dit nie oor sy hart kry om hierdie wêreld in die ellende te laat waarin ons onsself gedompel het nie. Dáárom is daar hoop!

Ds. Heerden van Niekerk

Did you like this? Share it:

Boodskap vir die week 18 November

Boodskap vir Vandag
Lukas 15:11-32

Lukas 15 is ‘n familieverhaal. Dit is ‘n verhaal wat baie al geinspireer het om liedjies soos Amazing Grace en Genade onbeskryflik groot te skryf en skilderye te verf soos die bekende Rembrandt se The Prodigal Son in 1669 en meer onlangs Sieger Köder se skildery (prent). In die skildery van Sieger Köder sien ons die vreugdevolle omhelsing van ‘n pa en sy jongste kind met die oudste kind wat met opstandigheid om die hoek wegkruip. Kyk na die hande. Die pa se hande wat sag omhels, die jongste wat dankbaar vashou en die oudste se gedraaide woedende hande. Die skildery spreek boekdele oor verhoudings en reaksies. Lukas vertel ‘n verhaal van ‘n vader wat uit liefde reageer en nie vanuit sy ego nie, nie uit trots, woede, hoogmoed of gekrenktheid nie. Sy jongste kind wens eintlik sy pa is dood deur te vra vir sy erfporsie. Die jongste kom terug na die huis nadat hy al sy besittings uitgemors het en die die vader reageer uit liefde. Die vader verneder homself eintlik deur met sy hart op sy mou, sy jongste kind tegemoet te hardloop, nie waardig rustig te stap of te wag nie, nie vanuit sy ego te reageer en homself te handhaaf nie, maar vanuit begrip en opregte liefde, hardloop hy met ‘n hart vol deernis. Die griekse woord wat vertaal word met innig jammer, verwys daarna dat sy ingewande gedraai het, hyt toegelaat dat sy emosies en denke en hart nie deur ego weggesteek word nie, maar ten volle uiting wys in deernis en hy hardloop, omhels en soen sy kind. Die vader oorlaai sy kind met geskenke, klere, skoene en ‘n ring, gasvrye liefde met kos en musiek en goedgunstigheid. Dit is vrye geskenke wat eintlik nog altyd tot beskikking van albei sy kinders was en is. Die vader verduidelik met liefde aan sy oudste kind, alles wat ek het, is ook joune! Die vader weerhou nie sy liefde en deernis en omgee en geskenke van enige van sy geliefde kinders nie en reik selfs uit na die kind wat worstel met moeilike emosies en vir die versoeking val om vanuit sy ego te reageer en kwaad te word. Die oudste kind het geval vir die versoeking van Compare, Compete & Complain. Hy het vir ‘n oomblik sy geliefdheid vergeet. Die vader luister en praat met empatie en deernis en leer hom van liefde en eintlik van die lewe. Die lewe is ‘n geskenk wat aangegryp en gevier moet word en vir ander gegun moet word. Alle goeie gawes moet gedeel word.
Die verhaal wil ons herinner aan ons eie identiteit, wie ons is: Geliefde kinders van God die Vader. Dit is ‘n baie basiese begrip, maar wat ons maklik vergeet of min oordink en omhels, ek is geliefd! Hierdie identiteit van geliefdheid het die vermoë om ‘n mens se oë oop te maak om al God se liefdesgeskenke raak te sien wat God elke dag vir al sy kinders gee, selfs te midde van armoede en rykdom, op berge en in dale, in siekte en gesondheid, in ‘n kort of ‘n lang lewe. Vanuit my geliefdheid kan ek ook werk om my sonde saam met God in die oë te kyk en te groei om minder vanuit my ego op te tree, maar meer vanuit my geliefheid wat ander dan ook met meer liefde, begrip en genade kan behandel.

Ds Karlien van Wyk

Did you like this? Share it:

Boodskap vir die Week 11 November

Skriflesing: Fil. 4:4-7
Filippense 4:4-7 vertel hoe dinge in ons lewe verander as Christus “nader” aan ons kom. Dit is soos iemand wat die deure oopruk waar agter ons met ons traagheid en angs sit en aan ons verklaar: Verbly julle, die Oorwinnaar is hier! Blydskap – nuwe lewensmoontlikhede. Hoe ontvang ons hierdie blydskap? Ons ontvang dit in Christus, in gemeenskap met Hom en deur Hom. Die gemeenskap met Christus skep die lewensruimte waarbinne die blydskap en vrede vir die gelowige ‘n werklikheid word en bly – maar ook die ruimte van waar hy /sy die vrede in die wêreld kan ontsluit. Die blydskap wat Christus bring is nie die kortstondige vertoonblydskap nie, maar die blywende blydskap voor die aangesig van die Here wat naby is. Dit is nie ‘n blydskap van psigiese vervoering nie, die gevolg van een of ander meevaller nie, ‘n houding van “keep smiling” nie. Dit is ‘n bevryding van die vrees dat die mens, of die duiwel en sy trawante, die laaste sê op aarde het en dat God ver is. Ons is nie aan die wêreld uitgelewer nie en die wêreld is nie aan ons uitgelewer nie! Ons blydskap word duidelik in ons omgang met ander. Vers 5 sê dat mense wat hulle in die Here verbly inskiklike mense is. Die woord epieikes (inskiklik) beteken: Welwillendheid, vriendelikheid, beskeidenheid, tegemoetkomendheid, toegeeflikheid, ‘n afsien van eie regte, ‘n gebrokenheid en “saving gentleness, the earthly counterpart of heavenly glory, not weakness or sentimentality.” Daardeur moet gelowiges bekend wees, dit moet hulle kenteken in die wêreld wees.
Die blydskap vanuit die versorgende nabyheid van die Here is ook ‘n uitdaging om oor niks besorg te wees nie (vers 6). Ons moet die dinge wat ons so gedurig pla en beangs maak, die groot vuishoue en die speldeprikkies van die lewe met gebed tegemoetgaan. Terwyl besorgdheid lei tot vreugde- en vredeloosheid omdat dit die mens opjaag tot immer groter en hoër prestasies as waarborg vir uisgemaakte geluk, gee gebed vrede. Dit is ‘n vrede wat nie alleen ons voorstellingsvermoë (wat ons verwag) te bowe gaan nie, maar gaan ook ons intelligensie (wat ons vermag) te bowe. Dit is ‘n vrede wat nie afhanklik is van die skommelinge van wêreldgebeure nie, maar ‘n vrede wat geanker is in die onveranderlike woord van God. Hierdie vrede bewaar nie net ons harte nie, maar bewaak dit ook. Dié vrede is tegelykertyd ’n vesting en ‘n bewaker van die mens teen aanslae op die hart en gedagtes wat so maklik op loop gaan. Geniet dit wanneer die nabye en komende Here sy lig op jou laat val. Hy wil jou dinge laat verwag, nuwe dinge wat nie daar was nie… vreugde, vriendelikheid, vrede.

Ds. Heerden van Niekerk

Did you like this? Share it:

Boodskap vir die Week 4 November


Preekskets: Psalm 104

Psalm 104 is ‘n lieflike Psalm wat die grootsheid en die rykheid van die skepping besing. God se kreatiwiteit en sorg vir die skepping word uitgelig en dit is duidelik dat alles keurig aanmekaar gesit is. Die werk as geheel is ‘n digterlike uitdrukking van God se woorde in Genesis 1: “En God het gesien dit is goed”.

Verse 1-9 fokus veral op God as die skepper en verse 10-23 fokus op God se voorsienige sorg vir sy skepsels – insluitend water, voedsel, habitat en lewenstyd. Daar is ook ‘n bewustheid van die interafhanklikheid van dinge. Die laaste verse (31-35) bevat ‘n stel wense en toewydings. Amper teen die einde vind ons ‘n oproep wat onvanpas voel in die vreugdevolle en liriese aard van die Psalm: Mag die sondaars van die aarde af verdwyn (v35). Maar daar is goeie rede voor: die sonde, boosheid, pas nie in hierdie pragtige skema van God nie en dit is daarom die wens van die digter dat dit verwyder word sodat God se kunswerk sonder smet kan wees. Dit is ook belangrik om te let daarop dat die digter nie vir God voorskryf hoe die sondaars “verwyder” moet word nie – dit mag selfs deur bekering wees dat hulle as sondaars “verdwyn” en eerder as nuwe mense inpas by God se plan.

Die vraag is wel met wie ons assosieer: Ons lees dalk die Psalm saam met die digter en wys vinger na die “sondaars” – wens saam met hom vir hulle verwydering. Maar – is ons nie dalk die sondaars wat die digter in die oog het nie? Is ons en ons samelewing – wat God se skeppings-kunswerk tans so verniel en verantwoordelik is vir ‘n ekologiese krisis – nie dalk juis diegene na wie die vinger gewys word nie?

Ds Wouter van Velden

Did you like this? Share it:

Volg ons op facebook:

2019 Tema & Kalender

NG Kerk Bankbesonderhede

NG Kerk Welgemoed

Absa Bank
Tjekrekening: 340 580 761
Takkode: 630 510

Ons Sosiale Platforms



Welgemoed Safe


Sluit nou aan en maak
Welgemoed veiliger vir almal

Snapscan